“Altesaam 3 417 mense is Woensdag teen 16:00 deur die hekke. Ons is baie opgewonde daaroor en is optimisties oor die bywoning vandeesweek,” het mnr. Toit Wessels, assistentbestuurder van bemarking en Nampo by Graan SA, gesê.

Volgens Wessels is hulle baie dankbaar dat al 287 uitstallers wat plek bespreek het, by die landboutentoonstelling is. Hulle het 230 stalletjies en 160 standplase beskikbaar gehad.

“Ons werk gewoonlik daarop dat twee of drie uitstallers vir elke honderd wat op die Nampo-oesdag wil uitstal, kan onttrek weens logistieke redes of situasies wat voorval. Almal is egter hier.”

Voornemende besoekers aan Nampo Kaap kan daarna uitsien om van die grootste trekkers en werktuie, asook van die nuutste tegnologie in die bedryf van naderby te beskou.

Verskeie nie-regeringsorganisasies, insluitend skole en kerke, behartig die kosstalletjies op die terrein, terwyl ’n program vir vroue daagliks aangebied word.

’n Veekomponent maak ook deel uit van Nampo Kaap, met die skouring wat deur die Merino-skaaptelersgenootskap, die Jersey-beestelersgenootskap en die Jeugskou opgeneem word.

Skaapskeerdemonstrasies vind plaas, terwyl ’n reuse-blommeuitstalling in die BKB-saal te sien is.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.