Altesaam 40 spanne het aan die gholfdag by The Clarens Golf & Leisure Estate op Clarens deelgeneem, met geborgde pryse van sowat R80 000. 

Die aantal aanvalle in die provinsie het in die eerste kwartaal afgeneem vergeleke met die eerste kwartaal in 2017. Die VL het van Januarie tot Maart vanjaar nege aanvalle en twee moorde op die Vrystaatse landbougrond aangeteken.  In die eerste drie maande van 2017 is 16 aanvalle en geen moorde aangeteken nie.

Die geld wat met die gholfdag ingesamel is, stel die VL en sy veiligheidsafdeling in staat om boere en hul werknemers te bemagtig ten opsigte van hul eie veiligheid. Die geld dra ook by tot versterking van samewerking tussen boere en die Suid-Afrikaanse Polisiediens om misdaad in landelike gebiede die hoof te bied.

Mnr. Francois Wilken, voorsitter van die VL, sê hy raak emosioneel as jy sien hoe vriende van die landbou en die organisasie geld beskikbaar maak om boere ten opsigte van veiligheid by te staan. “Met veiligheid wat deurlopend ’n kwessie is, is ’n mens tans meer bekommerd oor veiligheid as oor die moontlikheid dat jou plaas dalk gevat gaan word.”

Aanmeldingsentrum vir veediefstal

Volgens Wilken sal die geld ook aangewend word om te help om ’n aanmeldingsentrum vir veediefstal in die provinsie op die been te bring, aangesien veediefstal ’n groot probleem in die Vrystaat is. Die VL werk saam met die Rooivleisprodusente-organisasie om die sentrum tot stand te bring.

“Sonder hierdie finansiering sou die veiligheidsafdeling nie in staat wees om sy rol ten volle te vervul nie. Ons is baie dankbaar vir VKB asook al die deelnemende spanne - wat ook vriende van Vrystaat Landbou is - se ondersteuning,” sê mnr. Gerhard Kriel, uitvoerende hoof van die VL.

Mnr. Koos Janse van Rensburg, besturende direkteur van die VKB-groep, sê: “Dit is vir VKB ’n groot voorreg om op hierdie wyse by te dra tot die taak van Vrystaat Landbou en die veiligheidafdeling.

"Boere en hul werknemers speel ’n enorme rol in die welvaart van nie net ons maatskappy nie, maar ook van ons land. Ten einde voedselsekerheid te verseker, is dit ons plig om na die welstand van ons streek se boere en hul personeel om te sien. Boonop is hierdie gholfdag die ideale geleentheid om te skakel met ander bydraers tot die landboubedryf en ook die groter ekonomie.”

Total, Daisy Business Solutions en Standard Bank was saam met VKB die hoofborge van die geleentheid, met nog 40 borge wat meegehelp het om R610 000 in te samel.