Dit volg ná die goeie reënval én sneeu wat die naweek in die Kougadam se opvangsgebiede, die Langkloof en Baviaanskloof, voorgekom het.

Die Kougadam is een van die belangrikste damme vir landbouproduksie in die Oos-Kaap. In normale reënvaljare gaan 72% van die dam se water na die landbou, terwyl 28% aan munisipaliteite in die streek toegeken word.

Voor die goeie reënval was die Kougadam 7,4% vol, terwyl besproeiingsboere se waterkwota vroeër vanjaar verminder is tot slegs 20% van wat dit in normale reënvaljare sou wees.

Dié somber prentjie het binne twee dae verander toe die hemel se sluise veral bo die Langkloof oopgemaak en op sommige plekke selfs 355 mm gemeet is.

Maandagoggend het die Kouga-dam se vlak tot 35.69% gestyg en was die invloei nog sterk – 57 kubieke meter per sekonde (m3/s) by Stuurman (naby Joubertina), sê mnr. Garth Sampson van die Suid-Afrikaanse Weerdiens in Port Elizabeth.

Minstens 200 boere in die Gamtoosvallei is volgens mnr. Pierre Joubert, uitvoerende direkteur van die Gamtoos-besproeiingsraad, vir hul boerdery van die Kougadam afhanklik.

“Die vermindering van hul waterkwota tot 20% van hul normale waterverbruik het noodwendig minder werkgeleenthede beteken en dit kon ernstig raak, want die meeste inwoners hier is van die boere afhanklik vir werk.

“Die department waterwese moet nou dringend oor ons versoek besin om die boere se waterkwota te verhoog, want daar is nog tyd om groenteplantjies te bestel en in die grond te kry,” sê Joubert.

‘Ons kan weer begin boer’

Mnr. Petrus du Preez, voorsitter van die Gamtoos-landbouvereniging, is verheug oor die stygende vlakke van die Kougadam.

“Ons kan weer begin boer, daar is weer werk. Die Gamtoosvallei se groenteboere kan weer hul kop optel. Van dié boere, wat kontrakte met die groot kettingwinkels het, moes grond gaan huur in die Sondagsriviervallei en in die Kruisrivier-gebied buite Uitenhage waar daar meer water is, sodat hulle kon aanhou plant en hul kontrakte behou.”

Mnr. Douglas Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê daar was groot kommer oor die lae stand van die Kougadam en die besproeiingsboere in die Gamtoosvallei wat sonder water die warm somer sou moes binnegaan.

“Die reën het betyds gekom om ’n grootskaalse krisis af te weer. Die boere se kontantvloei was reeds uitgeput. Dieselfde geld ook die veeboere in veral die westelike dele van die Oos-Kaapse Karoo wat voer moes aankoop.”

Vier agtereenvolgende droogtejare het die weiding vernietig. Geskenkte voerbale, deur die bemiddeling van onder meer Gift of the Givers en mnr. Burre Burger, het die droogte se impak help versag.

Verlede week se reën het groot verligting vir dié gebiede gebring, maar Stern meen nóg goeie opvolgreën is nodig vir veldherstel. Hy sê intussen moet boere hul veld versigtig hanteer. Voerhulp is steeds nodig, “want die mense moet onthou dit reën nie kos nie.”

Die kans op goeie opvolgreën lyk egter skraal as die seisoenale weervoorspelling van die weerdiens in ag geneem word. “Die kans op nog reënval vir die westelike distrikte lyk nie te goed nie. Teen Desember verhoog die reënvalkans en in Januarie 2019 lyk dit beter,” sê Sampson.