Hy het in ’n webgesprek van die Instituut vir Rasseverhoudinge gesê dit gaan nie hier oor lewens teenoor die ekonomie nie, dit gaan oor lewens teenoor lewens. Hy beskou die inperking as “onvolhoubare malligheid” en het gesê hy glo as die swak ekonomie langer ingeperk word, sal meer mense as gevolg daarvan sterf as weens die Covid-19-virus.

“Hierdie is nie ’n ekonomie wat so ’n inperking kan bekostig nie. Suid-Afrika het die uitbreking van die virus reeds in haglike ekonomiese omstandighede begin met lae groei, uiterste werkloosheid en ongelykheid, asook ’n groot begrotingstekort. Elke dag word dit erger solank as wat die inperking voortduur.”

Schüssler het gesê die sterftes weens armoede moet in ag geneem word. Sowat 18% van die bevolking leef in groot armoede en gesondheidsprobleme soos tuberkulose, malaria en wanvoeding kom algemeen voor. Hy het gesê sowat 500 000 mense het tuberkulose en 22 000 het in 2016 malaria gehad. “Ons kan slegs van hierdie siektes ontslae raak as die ekonomie vinniger as die bevolking groei.”

Ondersteuningspakket

Hy het later die regering se maatskaplike en ekonomiese ondersteuningspakket van R500 miljard verwelkom maar gesê niemand weet nog hoe ons daarvoor gaan betaal nie. Hyself was ten gunste van ’n IMF-lening omdat dit relatief goedkoop finansiering is. “Daar is egter nou gesê hoe die geld bestee sal word en almal is lief vir die president. Almal gaan egter die minister van finansies haat, want hy sal dit êrens moet verhaal. Dit is soos om iemand wat in ’n ongeluk was in die hospitaal te kry om behandel te word maar niemand weet nog wie die koste gaan dra nie.”

Hy het ’n donker prentjie van die onmiddelike ekonomiese toekoms geskep met ’n totale begrotingstekort van 12,2%, ’n verdere 2 miljoen werksverliese, ’n skuldvlak teenoor BBP teen Maart aanstaande jaar van 74,4% en ’n jaar later 84%. “Ons het langer as ’n dekade oorbestee. Hierdie geld groei nie aan bome nie en daar kan nie net meer geld gedruk word nie.”

Vyf maniere

Hy glo daar is vyf maniere waarop die skuldlas gefinansier kan word. Die regering kan sy besteding drasties inkort, belastings kan verhoog word, daar kan ’n welvaartsbelasting ingestel word, pensioenfondse kan gedwing word om in regeringskuld te belê en minder rente te verdien, of die regering moet internasionale hulp verkry.

Hy glo daar is ’n groot kans dat die staat na pensioenfondse gaan begin kyk om homself uit die moeilikheid te kry. Schüssler se eie raad is dat soveel moontlik ekonomiese bedrywighede so vinnig mootlik oopgestel moet word. “Raak ontslae van kleinlike reëls. As taxi’s gehelp word, hoekom nie besighede wat veel meer kan bydra nie? Baie min lande het alle nie-noodsaaklike produksie gestaak, hoekom het ons? Open die skole dat die kinders kan leer en beskerm net die ou en siek mense wat wel ’n risiko het.”

Sy raad aan die regering vir ’n plan oor ’n bietjie langer termyn is om onder meer op te hou om verliesmakende staatsondernemings te finansier; verkoop staatsbates van radiofrekwensies tot kragsentrales en uitsaaidienste; spoor mynbedrywighede so vinnig moontlik aan; en raak ontslae van swart ekonomiese bemagtiging, want die koste vir die ekonomie weeg swaarder as ’n paar duisend mense wat bevoordeel word.

Hy glo daar is genoeg geld in die private sektor beskikbaar om die ekonomie ’n hupstoot te gee mits regeringsbeleid en politiek nie ’n voortgesette struikelblok is nie. “As daar sakevertroue geskep word, sal die beleggings kom.”