Gebrekkige selfoonseine is ’n kwessie wat groot frustrasie tydens die Oesdag kan veroorsaak, veral in die middel van die dag as die meeste mense op die terrein is.

Mnr. Du Toit Wessels, assistentbestuurder van bemarking en Nampo by Graan SA, sê ná jare se onderhandelinge is hulle dankbaar dat MTN vanjaar vyf tydelike selfoontorings in die omgewing opgerig het. 

Die torings sal die Vodacom-toring wat naby die terrein staan, ondersteun.

“Al die netwerke moes voorheen deur die Vodaco-toring ondersteun word. Ons is bly dat MTN ook nou deel geword het van die Nampo-Oesdag. MTN is vanjaar ook een van ons uitstallers.” 

Intussen word meer as 78 000 mense vanjaar by Nampo verwag. Wessels sê meer as 740 uitstallers, waarvan 15 buitelandse uitstallers is, is vanjaar op die Oesdag te sien. Landboumaatskappye en handels- en beleggingsagentskappe van onder meer Israel, Pole, Engeland, Amerika, Argentinië, Indië, Frankryk, Italië, Denemarke, China, Turkye en Rusland sal ook aan die Oesdag deelneem. 

Bestuur versigtig

Intussen het mnr. Cobus van Coller, voorsitter van die Oesdagkomitee, besoekers gevra om uiters versigtig te bestuur wanneer hulle na Nampopark reis. 

Hy het vroeër aan Landbouweekblad gesê die een roete om liefs te vermy is die R59 tussen Viljoenskroon en Bothaville. “Die pad word op die oomblik herbou en hoewel daar bane aan weerskante van die pad geskraap is, moet veral motoriste wat nie aan grond- en stofpaaie gewoond is nie eerder een van die ander toegangsroetes kies.”

Lees hier watter roetes Van Coller eerder voorstel vir voornemende besoekers.