Die wêreldwye verbruik van hoendervleis neem toe. Verbruikers met ’n hoër inkomste, meestal in ontwikkelde lande, verkies die wit borsvleis, terwyl verbruikers in ontwikkelende lande bruin hoendervleis verkies.

Volgens die departement van handel en nywerheid beïnvloed dit die wêreldwye pryspatroon van hoendervleis. Suid-Afrika het ’n styging in die invoer van hoendervleis aan die been van handelsvennote gesien, wat die plaaslike bedryf onder druk plaas. Die departement, die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging en die bedryf het met navorsing vir die ontwikkeling van die meesterplan begin.

Mnr. Mooketsi Ramasodi, adjunkdirekteur-generaal vir landbouproduksie by die departement van landbou, bosbou en visserye, sê die raamwerk vir die meesterplan word nog bespreek. Die sleuteldoelwitte sluit in om verkope te verbeter, die bevordering van mededingendheid, verhoogde werkskepping en die transformasie van die sektor. Die departement het sy vordering met die meesterplan aan die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye voorgelê.

Hy sê die bedryf is mededingend wat produksievlakke betref, maar ondoeltreffendheid in die waardeketting strem dit.

Die plan word in twee fases ontwikkel. Gedurende die eerste fase is handelsdata, produksie, belegging en werkskepping hersien. Dié werk is reeds voltooi. 

In die tweede fase sal die aktiwiteite in die plaaslike hoenderwaardeketting ondersoek word. Hier word onder meer gekyk na wat die werkskeppingsneigings in elke komponent van die waardeketting is, die siekte- en chemiese bestuursraamwerk word hersien, en die mededingendheid van die primêre braaihoenderproduksie, voer en logistieke waardeketting kom onder die kollig.

“Die meesterplan vir die pluimveewaardeketting sal help om volhoubare groei in die ketting te ontwikkel,” sê Ramasodi.

Die bevindings van die ondersoeke sal in April bekend gemaak word en voorstelle sal in Junie aan die bedryf voorlê word. Daarna sal konsultasie met ander belanghebbendes plaasvind. Die meesterplan behoort teen die einde van die tweede termyn van die 2019-’20-boekjaar voltooi te wees.

Die departement van handel en nywerheid het onlangs in ’n mediaverklaring opnuut sy verbintenis verklaar om die pluimveebedryf te ondersteun.

Dit volg ná onlangse berigte oor die groot toename in ingevoerde hoendervleis verlede jaar, asook die druk wat dit op braaihoenderprodusente plaas.

Die teenstortingsbeweging FairPlay het in reaksie op die verklaring gesê dit kan ’n nuwe era van samewerking tussen die staat en die bedryf inlui.

Mnr. Francois Baird, stigter van FairPlay, sê egter die organisasie sal wil sien dat woorde in dade omgeskakel word. Die grootste voorrang moet volgens hom daaraan verleen word om die styging in die invoer van hoendervleis te keer, omdat dit die bedryf voortdurend in ’n krisis laat.

Baird sê alle betrokke departemente moet hul steun verleen.

Die departement van landbou, bosbou en visserye het volgens hom nie genoeg geld om gesondheids- en voedselveiligheidstoetse by buitelandse produksie-aanlegte en op invoerbesendings te doen nie en kan nie dít wat ander lande daaraan doen, ewenaar nie.

Die tesourie kan ’n bydrae lewer deur geld te bewillig om Suid-Afrika se inspeksievermoë te verbeter.

Verder behoort die departement van gesondheid volgens Baird nie die invoer van bevrore grootmaatpakke toe te laat nie, omdat dit plaaslik ontdooi en herverpak word, wat gesondheidsrisiko’s inhou.

In teenstelling met ingevoerde produkte moet plaaslik geproduseerde produkte etikette bevat wat naspeurbaarheid in geval van besmetting verseker.

“Dit is skandalig dat ingevoerde hoendervleis so vaag geëtiketteer kan word,” sê Baird.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.