Dr. Jakkie du Toit, navorsingsbestuurder van die skema, het gesê die doel van die Meestersuiwelboer-kompetisie is om erkenning te gee vir die teel van geneties meerderwaardige diere, met behulp van prestasie-opname en prestasietoetsing as instrumente.

Dr. Shadrack Moephuli, uitvoerende hoof van die LNR, het die geleentheid geopen en die belangrikheid beklemtoon van voortgesette belegging in navorsing en ontwikkeling om tegnologies gevorderde instrumente vir die verbetering van diere te verseker, veral vir doeltreffende seleksie en teling in ’n era van verhoogde landbourisiko’s.

Hy het erkenning gegee aan die aanpasbaarheid en innovasie van melkboere in die lig van daaglikse kwessies soos ’n verminderde vraag as gevolg van die inperking weens die Covid-19-pandemie. “Die droogte het boere gedwing om na alternatiewe produksiestelsels te kyk en die teling van droogteverdraagsame voerkultivars het ’n prioriteit geword."

Die gesogte kompetisie se wenners word in verskeie kategorieë bekroon. Die wenners is:

• Nasionale Meestersuiwelboer van die Jaar 2020: mnr. Johannes Loubser, Durbanville, Wes-Kaap.

• Nasionale Kleinskaalse Meestersuiwelboer van die Jaar 2020: wyle mnr. Jan Zim, tussen Harrismith en Kestell, Vrystaat.

• Spesiale toekenning vir innoverende ontwikkeling deur ’n Suiwelprodusent van die Jaar 2020: Fort Hare Dairy Trust, Alice, Oos-Kaap.

• Nasional kudde met die beste somatiese seltelling 2020: mnr. Etienne Zeeman, Swellendam, Wes-Kaap, met 155 000 selle/ml.

• Nasionale kudde met die beste tussenkalfperiode 2020: Tweekop Boerdery (mnre. Pieter Steenkamp en Dirk van Papendorp), Swellendam, Wes-Kaap met ’n tussenkalfperiode van 376 dae.

Belangstellendes kan by www.livestock.org.za/arcmasterdairymanawards na die virtuele toekenningsgeleentheid kyk.