Hendriks, wat verskeie keer as nasionale meestersuiwelboer en minstens 14 keer as Vrystaatse kandidaat in dié kompetisie aangewys is, het besluit om op 72-jarige ouderdom “te begin kwaad doen”, iets waarvoor hy nie vroeër tyd gehad het nie.

Hy het reeds ’n groot deel van sy Spitsvuur-Holsteinkudde aan ’n melkplaas in Eikenhof, Johannesburg, verkoop. Die koper, wie se naam nie bekend gemaak is nie, het 620 volwasse vroulike diere aangeskaf. Sowat 40 tot 50 koeie op Hendriks se uitskotlys waarvan die ekonomiese waarde begin afneem het, sal binne die volgende maand as slagdiere bemark word. Die oorblywende 250 top-versies sal later bemark word.

Volgens Hendriks wou hy die kudde op ’n produksiehoogtepunt verkoop. Spitsvuur se koeie het tot onlangs ’n daaglikse gemiddelde produksie van 42 liter per koei gehandhaaf.

Faktore soos die onttrekking van melkkopers in die noordelike deel van die land, fabrieke wat in die kusstreke hervestig word, die stygende kosteknyptang en sy gesondheid wat daaronder ly, het bygedra tot sy besluit om die melkbedryf te verlaat.

“Ek kon nog winsgewend boer omdat ek self as veearts, voedingskundige en genetikus in my kudde kon optree,” sê hy.

Hendriks het sy Inovula-melkery oor meer as drie dekades in die bedryf opgebou. In Februarie 2020 het sy kuddegemiddelde van 563 koeie wat ’n laktasie van 305 dae voltooi het, ’n totale melkproduksie van 14 047 kg opgelewer met ’n bottervetinhoud van 3,58% en proteïeninhoud van 3,07%.

Die koper het ook 15 000 strooitjies as deel van die transaksie bekom. Volgens Hendriks kan die Spitsvuur-teelmateriaal nog lank behoue bly, mits goeie bestuur toegepas word.