Chemici van die KTH-koninklike instituut van tegnologie in Swede het ’n nuwe soort plastiekskuim uit die melkproteïene in wei of dikmelkwater ontwikkel. Volgens die instelling is die materiaal baie bestand teen uiterste temperature.

Dit kan nie gesê word van die meeste soorte plastiek wat uit petroleum vervaardig word nie. Die basiese bestanddeel daarvan is die proteïen nanofibril, wat uit gehidroliseerde weiproteïene bestaan. Wei is ’n neweproduk van kaasmaak.

Die materiaal kan byvoorbeeld werk as ’n petrolfilter en vir ander voertuigonderdele, in skuimverpakking en in toepassings wat moet help om ’n gebou of ruimte klankdig te maak en te isoleer. Dit kan ook gebruik word om vloeistowwe wat gemors het, mee op te suig.

Die materiaal is onder meer ’n maand lank aan temperature van 150 °C blootgestel sonder dat dit ’n noemenswaardige afname in gehalte en duursaamheid getoon het.

Volgens die navorser prof. Mikael Hedenqvist sou materiaal wat van petroleum gemaak is, in dieselfde toestande gesmelt en gedisintegreer het. Die nuwe materiaal is ook baie meer vuurbestand as poli-uretaangebaseerde materiaal wat dikwels gebruik word.

Volgens die Swede raak die produk inderwaarheid al hoe sterker en beter met verloop van tyd en hoe hoër die temperatuur is. Dit blyk ook waterbestand te wees.

Diesel en warm olie het ook nie die gehalte van die materiaal beïnvloed nie. “Hierdie bio-afbreekbare, volhoubare materiaal kan ’n lewensvatbare opsie wees in uiterste omgewings waar dit belangrik is dat materiale vuurbestand is,” sê Hedenqvist.