Die winkelgroep sê hy het dit ingevoer om seker te maak hy het in die winter genoeg voorraad.

Die ingevoerde melk het groot kritiek op die Facebook-groep Boere Gesels uitgelok, net soos wat ingevoerde Poolse melk op Checkers se rakke ook in 2015 gekritiseer is.

Die foto soos wat dit op Boere Gesels op Facebook gedeel is.

Die melkbedryf beoog ’n aansoek om invoertariewe op sulke melk.

Mnr. Mike Prentice, bemarkingsdirekteur van Spar, het aan Landbouweekblad gesê die groep het vroeg vanjaar 8 miljoen liter ingevoer, wat slegs 6% van Spar se jaarlikse aankope verteenwoordig. “Die oorblywende 94% word steeds by plaaslike boere aangekoop.”

Spar koop alle langlewemelk vir sy handelsmerk by Woodlands Dairy in die Oos-Kaap.

Prentice en mnr. Lex Gutsche, uitvoerende hoof van Woodlands, sê die winter word gewoonlik deur tekorte gekenmerk en daarom het hulle saam besluit om melk in te voer.

Prentice sê die besluit is in Januarie geneem omdat dit maande duur om verpakking gereed te hê en die melk na Suid-Afrika te vervoer. Teen die tyd dat syfers getoon het dat daar nie ’n tekort sou wees nie, was die produkte reeds onderweg.

Gutsche sê die betreklik klein hoeveelheid wat ingevoer is, verteenwoordig slegs sowat drie weke se verkope vir Spar.

“Spar is ’n onderneming en moet verseker dat hy te alle tye genoeg melk op sy rakke het,” sê Gutsche. “Dit is nie onwettig om melk in te voer nie. ’n Mens moet versigtig wees om Spar nie te antagoniseer om ongunstig teenoor plaaslike boere te reageer nie.

“Hoewel ek nie glo dit is Spar se doelwit nie, is dit binne die groep se reg om meer melk in te voer as hy wil. Dit is tog sý handelsmerk.”

Hy sê kritici behoort eerder meer aandag te gee aan baie groter hoeveelhede wat deurentyd deur ’n ander winkelgroep ingevoer word.

“Spar het ons maatskappy, en daarom ook plaaslike boere, sedert November 1995 getrou ondersteun. Die groep het, op grond van ’n handskud, ingestem dat ons ’n fabriek bou en melk vir sy handelsmerk verpak.

“Ek beskou Spar se verbintenis toe, en nou, as diepgaande en uiters waardevol vir die plaaslike boeregemeenskap,” sê Gutsche.

Invoer daal

Dr. Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die Melkprodusente-organisasie (MPO), sê vanjaar se invoer van langlewemelk het bykomende druk op melkboere geplaas in ’n tyd dat ’n gunstige melk-tot-voerprysverhouding tot surplusproduksie in kusprovinsies gelei het.

Syfers toon egter dat die invoer van langlewemelk sedert begin vanjaar heelwat gedaal het en dat die prys van dié melk ook heelwat gestyg het, sodat dit nie met plaaslike pryse kan meeding nie.

Van Dijk sê die MPO besef watter uitwerking sulke invoer op die bedryf het, en dat dit as die rede vir verlagings in melkboere se pryse, asook die staking van melkwinning vanaf sekere plase aangevoer word.

“Die MPO beywer hom al etlike jare vir tariefbeskerming vir langlewemelk, maar was weens regeringsbeleid tot dusver onsuksesvol. Om ’n invoertarief op ’n produk ingestel te kry of bestaande tariewe te verhoog, is nie meer so eenvoudig soos in die verlede nie.

“Invoertariewe of invoerregte word lankal nie meer gebruik as ’n maatreël om binnelandse bedrywe te beskerm teen ingevoerde produkte nie, maar as handels- en nywerheidsbeleidsinstrumente om plaaslike produksie, die behoud en skepping van werkgeleenthede, en internasionale mededingendheid te bevorder.”

Van Dijk sê die MPO as verteenwoordigers van die primêre bedryf wie se produk onverwerkte melk is, kan nie by die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) om ’n invoertarief aansoek doen nie, maar wel plaaslike vervaardigers van die spesifieke produk – langlewemelk – met die steun van die hele bedryf.

Die sekondêre bedryf beoog nou wel so ’n aansoek en die MPO sal die nodige bystand en ondersteuning bied.


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.