Mnr. Rudolph Burger, melkboer van Brandfort in die Vrystaat, het die melk onder Woodlands Dairy se First Choice-handelsmerk by Metro, ’n groothandelaar, gevind.

Burger sê terwyl hy seker is dat Poolse melkboere gesubsideer word, is Suid-Afrikaanse melkboere in ’n moeilike posisie weens stygende koste soos lone, krag en brandstof. “Dit maak ons gedaan om sywaarts (met die plaashekprys) te beweeg.”

Mnr. Lex Gutsche, voorsitter en uitvoerende hoof van Woodlands Dairy, sê die betrokke Poolse melk is ingevoer om seker te maak daar is in die winter genoeg melk op die rakke. Dit het geen verbruiker of melkboer nadelig geraak nie.

pole melk
Die langlewemelk uit Pole, afgeneem by ’n groothandelaar in Bloemfontein. Foto: Rudolph Burger
pole melk,
Die langlewemelk uit Pole, afgeneem by ’n groothandelaar in Bloemfontein. Foto: Rudolph Burger

Beskerming

Burger meen egter daar behoort invoertariewe op ingevoerde melk en ander landbouprodukte te wees. “In baie gevalle kry die verbruiker in elk geval nie die voordeel nie, dit is die handelaar wat skep.”

Melk SA het ná groot invoer van Poolse langlewemelk in 2017 ’n werkgroep aangewys om te kyk na ’n moontlike tariefaansoek vir melk uit die Europese Unie (EU), met wie Suid-Afrika ’n ekonomiese vennootskapsooreenkoms (EVO) vir vrye handel het.

Mnr. Alwyn Kraamwinkel, voorsitter van die werkgroep en uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Melkprosesseerdersorganisasie (Sampro), sê in 2017 is ’n rekordhoeveelheid van 38,8 miljoen liter volroomlanglewemelk, sowat 4% van die plaaslike vraag, hoofsaaklik uit Pole ingevoer. Verlede jaar het dit tot 17,1 miljoen liter, sowat 2% van die vraag, gedaal.

Van Augustus verlede jaar tot Maart vanjaar is geen langlewemelk ingevoer nie. “Invoer het in April weer begin. Hoewel die invoerpatrone van jaar tot jaar verskil, sal vanjaar se invoer waarskynlik soortgelyk aan verlede jaar se hoeveelheid wees,” sê hy.

’n Mens moet volgens hom in ag neem dat Suid-Afrika ook langlewemelk uitvoer.

Artikel 35 van die EVO maak voorsiening vir beveiligingsregte, ook bekend as beskermende tariewe, op ingevoerde produkte uit die EU, mits dit nie hoër as die gewone invoertarief vir ander lande is nie, wat tans 0% vir langlewemelk is.

Kraamwinkel sê die werkgroep wag dat die departement van handel en nywerheid sy prosedure en beleid vir artikel 35-aansoeke voltooi.

“Ons sal dan, met inagneming van die omvang en prys van invoer en die invloed wat dit op die suiwelbedryf het, bepaal of ’n aansoek om sowel ’n gewone invoertarief as ’n beveiligingsreg, in die lig van die kriteria wat die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) gebruik, gepas sal wees.”

In albei gevalle moet ’n mens, deur omvangryke en gedetailleerde inligting, skade aan die plaaslike bedryf kan bewys.

Taktiek

Mnr. Bertus van Heerden, hoofekonoom van die Melkprodusente-organisasie (MPO), sê as ’n mens die waarde van die suiwelbedryf se bruto binnelandse produk bereken, sal ingevoerde melk ’n onnodige, ongunstige uitwerking daarop hê. Suid-Afrikaanse verwerkers kán melk kostedoeltreffend produseer.

Die invoer verander volgens hom die atmosfeer in die mark en het ’n invloed op onderhandelingstaktiek. “Vanuit die oogpunt van ’n melkboer lyk dit asof die magsbalans dan selfs meer na verwerkers en ander belanghebbendes verder af in die waardeketting kantel.”

Ingevoerde langlewemelk wat in Mei tot Julie in Suid-Afrika aangekom het, se vry-aan-boordpryse was van sowat R6,50/liter tot R9,50/liter. Saam met verdere koste van ongeveer R2,50/liter bring dit die totale koste op van R9/liter tot R12/liter.

Hoewel plaaslike melkproduksie van Januarie tot Julie vanjaar 0,13% laer was as in die eerste sewe maande van verlede jaar, sê Van Heerden ’n mens moet dit teen die agtergrond van hoë groei in dié tydperk verlede jaar sien. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.