Volgens die gemeenskap het die hooggeregshof in Durban Safda die reg gegee om vanaf 1 Januarie vanjaar beheer oor die gemeenskap se eisgrond te neem hoewel die meeste eisers van hierdie landbougrond in die distrik Mthonjaneni in Melmoth, KwaZulu-Natal, daarteen gestem het dat Safda die bestuur oorneem.

Mnr. Alfred Thembinkosi Dludla, voorsitter van die gemeenskap, sê die gemeenskap mag nie die grond betree nie. “Ons kan nie toegang tot ons eiendom kry om vergaderings daar te hou nie, want die staat wat ons die grond gegee het, het ook ons regte weggevat. Ons moet buite sit pleks van op ons grond.”

Hy sê ’n paar individue op die gemeenskapstrust het ’n ooreenkoms met Safda aangegaan in stryd met die wense van die breër gemeenskap. Die gemeenskap het reeds besluit om hierdie trustees te verwyder toe die hofbevel toegestaan is.

Dludla sê Safda, wat volgens hom juis nie ’n goeie bestuursrekord het nie, is besig is om hul plaas te vernietig. “Ons weet dat Safda nie kapasiteit het om kommersiële plase te bestuur nie. Ons het ’n sterk gevoel dat ons plaas besig is om dood te gaan.”

Boerdery is die ruggraat van die ekonomie van Melmoth. “As ons dit vandag los om dood te gaan, beteken dit ons is besig om die hele Melmoth te vernietig, want dit bied die enigste inkomste vir die meeste van die begunstigdes van hierdie grond.”

Hulp

Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, wat die gemeenskap te hulp snel, het hulle 26 Maart besoek nadat die DA van hul pleidooi bewus geword het. “Dit bekommer ons dat gemeenskappe deur middel van hofsake met die staat en minister moet praat. Dit is geen wonder die staat se uitgawes aan hofgedinge en prokureurs is hemelhoog nie, terwyl gemeenskappe hul eie koste vir gedinge teen die staat moet dek.”

Steyn gaan aan Didiza skryf en hoor waarom die staat Safda as “voog” aangestel het nadat gemeenskappe hul grond deur middel van ’n grondeis ontvang het.

“Ons wil die volledige ooreenkoms tussen die staat en Safda sien, asook notules van vergaderings waar klaarblyklik besluit is dat Safda namens die gemeenskap aangestel sal word,” sê Steyn.

Ingryping

Die gemeenskap het vroeër ’n memorandum aan onder andere me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en mnr. Bheki Cele, minister van polisie, gestuur. Hulle vra dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling in konsultasie met die KwaZulu-Natalse grondeisekommissaris ’n onafhanklike bemiddelaar aanstel wat ’n vergadering met die gemeenskap belê sodat nege begunstigdes van die gemeenskap verkies kan word om as trustees te dien.

Die meester van die hooggeregshof moet dan in kennis gestel word dat die huidige trustees verwyder en nuwes aangestel word. Die gemeenskap sal dan ’n resolusie moet aanvaar of Safda of ’n ander organisasie die plase moet bestuur en wat die voorwaardes van die ooreenkoms moet wees.

In die memorandum word ook ’n waarskuwing gerig dat die gemeenskap nie sal toelaat dat Safda voortgaan om die plase te bestuur nie en dat hulle Safda se bedrywighede sal ontwrig.

Lees Safda se kommentaar op Landbouweekblad se vra hier.