Gistermiddag besoek ’n nuwe pasiënt die spreek-kamer. ’n Pragtige, jong donkerkop – gegradueerde verpleegkundige met ’n kunstige bolstapel op die kop en ’n moderne bril.

“Ek’s baie bang,” sê sy met ’n skuinsweg-glimlag toe die assistent haar roep. “Jy is self ’n suster. Hoe’s jy dan nou so bang? Jy sal OK wees, man!” probeer ek troos.

“Nee, mevrou, ek kan uitdeel, maar ek kan nie vat nie,” antwoord sy skertsend.

Daar is mense, soos ek ook al, wat kan uitdeel, maar nie kan vat nie. Slegsê kan uitdeel, maar nie die prik van vermaning kan vat nie.

Skinder kan uitdeel, maar die inspuiting-seer van oorvertelde hoorstories nie kan vat nie. Oor-mense-loop kan uitdeel, maar tonetrap-eina nie kan vat nie.

En só leer ek by hierdie aanvallige nursie nog ’n les – dat ek my inspuitings of oogsplinters maar klein en stompsag sal moet hou, net ingeval ’n vlym-skerp deurboordolk dalk my kleinserige hart laat bloei.