Die land se volwasse vroulike beeskudde het tydens dié droogte met 2 miljoen afgeneem, en dit sal tot 2021 duur om weer die koeikudde op te bou, luidens nog ’n berig in LBW. Ek was ’n kleinboer by Koedoeskop en het 140 koeie en 40 speenkalwers gehad. Toe breek die hel los. Dit reën nie in Suid-Afrika nie, en ’n aanhoudende hittegolf vererger die situasie. Die weiding was opgevreet.

Ek het padreserwes bewei totdat die beeste nie meer verder kon loop nie. Ek het die 40 kalwers op veilings teen weggeepryse verkoop. Die afslaer het my ná ’n vee-inspeksie gewaarsku dat die meeste van my koeie nie ’n rit na die veilingskrale sou oorleef nie. Advertensies teen einde 2015 vir weiding in LBW en plaaslike koerante het niks opgelewer nie.

Veilings-, koöperasie- en boereverenigingsbeamptes het na voer help soek. Alles vergeefs. Ná dae se gesukkel het ek 250 kg-dekgrasrondebale (met 50% doringbos in) vanaf Dendron teen R400 per baal gekry. Elke week is 50 bale op die plaas afgelaai. Ons het van die oggend tot die aand proteïenlek en mieliesemels gemeng en gevoer.

Teen April 2016 het my vervoer- en voerrekening by die R400 000 gedraai uit my laaste kontantreserwes. Ons het koeie daagliks help optel sodat hulle kon staan. Party met sukses, maar ander nie. Ek ken die geluid wat ’n koei maak as sy die laaste keer gaan lê om nie weer op te staan nie. Al geluide wat dan oorgebly het, was haar gekners op haar tande.

Ons boere was erg getraumatiseerd. Daar was stories van boere wat hul beeste op veilings byna verniet weggegee het omdat daar nie kopers was nie. Ander het van hul verswakte kuddes in die kraal doodgeskiet. Ek het koeie verloor. Die hel wat ek en my diere deurgemaak het, sal net ons weet. Die hitte- en voedingstres het ook die meeste koeie in 2015 en 2016 laat oorslaan. Hulle het gevolglik nie gekalf nie.

UITKOMS

Toe gebeur ’n wonderwerk. Ná smeekgebede het ek ’n plaas met weiding by Bela-Bela te huur gekry. Dankie vir al die briewe in LBW waarin die getraumatiseerde skrywers tot God bid en oor die lot van boere praat. As alle Suid-Afrikaners maar net dié briewe kon lees! Elke dag het ek gewonder waar die staat en landbou- en veeteeltorganisasies was wat ons kleinboere kon bystaan. “Ramphulp” was op sigself ’n ramp.

Staatshulp het nie ’n werklikheid geword nie, en luidens berigte is 40% van die begrote staatsgeld gesteel. Weinig verslag kan oor die res gegee word. Dank die Here vir die organisasie Boere in Nood wat my gehelp het met 10 rondebale mielievoer wat 60 km ver gehaal moes word. Dit was genoeg vir een en ’n half dag se kos vir my koeie, maar die inisiatief om boere te help, was wonderlik! Waar was Agri SA, TLU SA, die Rooivleisprodusente-organisasie, Graan SA, Agbiz en Afasa in hierdie tyd?

Julle het geskitter in jul afwesigheid, terwyl boere wildkuddes, veekuddes, totale oeste en plase verloor het en die ergste trauma moes deurmaak. Sogenoemde groot, mega-, leier- en topboere was ook onsigbaar. Groot besproeiingsboere het net op hul winste met die hoë mielieprys gekonsentreer. Die landbou- en veeteeltorganisasies moes in 2015 of 2016 ’n spesiale kongres gehou het sodat oor werklike hulp besin kon word.

Agri SA sê hy het R18 miljoen ingesamel en 16 000 boere daarmee gehelp. Dit beteken dat elke boer R1 125 se hulp sou ontvang het om net drie bale te koop vir net 60 koeie vir net een dag. Maar noudat die landbouorganisasies se bestuurslede en die groot, mega-, leier- en topboere se eie plase in gedrang kom met onteiening sonder vergoeding, is almal die ene ore.

Agri SA moet vergeet van vergaderings met ’n paar ANC-lede in blink sitkamers. Vergeet van ope briewe aan die President. Hierdie dinge beteken niks. Hou ook op met die paniekslagspreuk van voedselsekerheid. Artikel 25 gaan om iets anders. Die Regering het reeds in 2015 gewys dat hy nie omgee vir voedselsekerheid nie. Dit is nou tyd vir boere om weer die stem dik te maak.

Ek was deel van die boerebeleg in 1991 toe ons Pretoria tot stilstand gedwing het. Ek self is daardie dag saam met Bennie van Zyl van TLU SA en ander boere in die polisietronkselle gegooi, maar ons het die Regering tot verantwoording geroep. Landbou-organisasies behoort nou ’n spesiale kongres te belê. Die boere, oor kleurgrense heen, sal ’n stadion volpak.

Kry pres. Cyril Ramaphosa om ons boere in die oë te kyk en met ons almal te praat sodat ons boere weet waar ons staan en die regte inligting die wêreld ingestuur kan word. Een ding het ek uit my 2015-ervaring geleer, en dit is dat jy op niemand kan staatmaak om hulp in krisistye nie. Jy is op jou eie, met net God wat by jou staan, jou daardeur dra en weer optel.

Mnr. Van Dyk is van Bela-Bela

© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.