Ek wil nie afbreek doen aan die geleentheid nie, maar wil graag my mening lug. Ongeveer 80 jaar gelede het my vader ’n stukkie grond vir 300 pond gekoop. Hy kon geen finansiering kry nie, maar het dit gekoop met die hulp van ’n vriend en het hom terugbetaal. Hy het ’n paar jaar lank geboer, maar weersomstandighede het gemaak dat hy weer by die myn gaan werk het.

Hy kon weer nie finansiering kry nie, maar het darem sy stukkie grond behou. Jare later wou ek en my broer ’n besproeiingsperseel by Groblersdal koop. Ons kon nie finansiering kry nie. Kallie Schoeman praat van die binnebaan (“Bloubloed-boer se oë gaan oop ná grondverhore”, LBW, 7 September 2018). Dít het ek nooit in my lewe gekry nie.

Ek het nie eens geweet daar bestaan so iets nie. Ek het in my lewe deur baie ou trustgebiede gery. Wat daar gebeur het, was oorbeweiding en gronderosie. Geen boerdery nie. Van die gebiede is nog deur oom Paul Kruger gegee. Dieselfde in latere trustgebiede. Ek was onlangs op plase wat die staat aan swart “boere” gegee het. Hulle sit net en wag dat wit boere die grond by hulle huur.

Daar gebeur niks. In die vroeë 1960’s het boere by Mafikeng die lande vir swart boere geploeg en geplant. Ek was weer daar ná 1990. Geen swart boere nie. Kallie Schoeman, hoor nou wat die mense oorkant die rivier sê! Wat is die oplossing? Ek weet nie. Ons moet net oppas dat ons nie ons eersgebore reg verruil vir ’n pot lensiesop, soos ons al dikwels gedoen het nie.

U moet weet, ek gun almal in ons land ’n menslike bestaan, maar dan moet daarvoor gewérk word, en nie “gesteel” word nie. Hou op afbreek, en wérk!

Mnr. Henn is van Bethal

© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.