Dít is die slotsom waartoe deelnemers aan ’n Christelike grondberaad in Johannesburg gekom het waar verskeie suksesvolle hervormingsprojekte as voorbeelde voorgehou is.

Die beraad is aangebied deur die New Nation Movement en Amos Agrimin na aanleiding van Landbouweekblad se suksesvolle grondberaad op Bela-Bela verlede jaar. Die deelnemers meen dit is omdat mense voorop gestel word dat daar nou suksesvolle projekte reg oor die land is.

“Baie meer sulke projekte is egter nodig om produktiwiteit en volhoubaarheid op lang termyn te verseker,” sê die organiseerders in hul samevattende verslag.

“Wat duidelik was uit die voorbeelde wat voorgehou is, is dat werkbare, produktiewe en volhoubare boerdery-eenhede wel moontlik is oor kulturele en ekonomiese grense heen.” Van die tekortkominge wat bespreek is, sluit in marktoegang vir kleinboere, asook opleiding en mentorskappe.

Voorbeelde van suksesvolle projekte wat voorgehou is, sluit in die verhaal van mnr. Kosie en me. Liesel van Zyl wat in 2006 met van hul plaaswerkers saamgespan het om die Agri Dwala Trust te stig en saam by Napier in die Overberg te boer.

Vandag is dit die Overberg se bekendste bemagtigingsprojek en die plaas word nou ten volle deur die werkers besit. Kommunikasie, goeie administrasie en noukeurige finansiële bestuur hou die boerdery op ’n volhoubare pad. 

Nog ’n voorbeeld was dié van mnr. Tobias Fourie, ’n melkboer van Limpopo, wat sowat twee jaar gelede sy eie bemagtigingsprojek begin het deur naburige grond met ’n Land Bank-lening te koop en ’n werkerstrust te stig wat 51% van die grond besit. Hy glo boere in sulke vennootskappe moet aan hul werkers raad gee soos aan hul eie kinders en seker maak daar is ’n gesonde vertrouensverhouding.

Mnr. Hannes Pretorius het in 2010 met ander boere saamgespan om al hul bronne by Ficksburg saam te voeg en saam met plaaswerkers onder die vaandel van ’n stigting, die MD Foundation, te boer. Die inkomste uit die boerdery word onder meer gebruik om vir die gemeenskap infrastruktuur soos ’n skool, kliniek en ’n nasorgsentrum te bou en te bedryf.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.