Die Jordaans boer naby Cradock op die plaas Spekboomberg. Die ram, Emperor, is deur mnre. Pieter van Zyl en Philip Botha van Britstown gekoop.

Die Jordaans het die ses ramme wat hulle op die veiling aangebied het, teen ’n gemiddelde prys van R110 000 verkoop.

“Dit is vir ons ’n groot prestasie, veral vanweë die gemiddelde verkoopsprys waarteen die ramme verkoop is. Dit is in die omstandighede net ná die droogte ongewoon,” het mnr. Andrew Jordaan jr. gesê.

Jordaan glo die huidige wolpryse was ’n groot dryfveer vir die goeie pryse, tesame met boere wat in goeie teelmateriaal belê.

“Die ram is geteel van teelmateriaal uit Australië en volgens sy BLUP-syfers het die ram ’n uitstaande hoeveelheid wol en is die syfers ’n goeie kombinasie van groei, liggaamsgewig en die hoeveelheid wol wat die ram lewer.”

Nóg twee van die Jordaans se ramme is teen die naashoogste prys van R130 000 elk verkoop. ’n Ram van mnr. Michael Hayward van Wildewater Merino’s is vir R113 000 aan mnre. Jannie Jacobs en Wikus Cloete verkoop. ’n Ram van Trumps Merino’s van mnr. Jan Pienaar is teen R110 000 aan mnre. Zach Grove en Sias Scheepers verkoop.

Goeie pryse, maar...

Mnr. Danie Vorster, bestuurder van Merino SA, sê goeie, bogemiddelde pryse is vir sommige ramme betaal, maar daar was ook ramme wat beter pryse kon behaal het.

Ramme is teen ’n gemiddelde prys van ongeveer R30 000 verkoop. Altesaam 77 ramme is aangebied, waarvan 71 verkoop is.

Jordaan het beaam dat goeie pryse vir goeie ramme betaal is, maar dat dit kommerwekkend is dat middelmatige ramme amper geen bod gekry het nie. “Dit maak my bekommerd dat jy nie meer ’n groot aantal ramme kan verkoop nie. Die kopers is nou baie meer puntenerig oor hul vereistes. En die gewone ram gaan nie geld maak nie.”

Hy meen dat boere nou danksy laparoskopie een goeie ram gebruik om meer ooie mee te dek, sodat vinniger genetiese vordering gemaak kan word. Boere is bereid om goeie pryse vir ramme met die regte syfers te betaal.