Cape Wools se negende Wêreld-merinokonferensie en 2014 se Merino-ekspo begin Dinsdagoggend 29 April op die Markötter- en Bloemhof-terreine in sentraal-Stellenbosch. By die ekspo sal skape, wol- en skaapvleisprodukte vertoon word en talle skaapverwante demonstrasies word aangebied. Die publiek is baie welkom en allerlei tradisionele skaapgeregte word op die 29ste vir middagete voorgesit.                                                          

Meer as 350 Merinotelers en -boere van Australasië, Suid- en Noord-Amerika, Europa, Suid-Afrika en ook ’n groot groep van Rusland woon die konferensie by. Daar sal kosstalletjies wees en wêreldklas- Merino-produkte teen spesiale ekspopryse. Die ekspo op die 29ste sal onder meer lamsvleisgeregte, skaapskeer, wolklassering, suiwer wolmodes, hanslammers, ram- en ooiversorging en die weeg van lammers en skape insluit.
                                                                                                                                                                                   Vir Smulpape kan kom proe
Vir lamsvleisliefhebbers bied die ekspo op die Markötter-sportterrein op Stellenbosch uitstekende ekspowaarde. Op die 29ste word ’n unieke terroir-proe van Merinovleis om 11:00 en 15:00 aangebied. Die span van die bekende Eat Out-toekennings sal die proegeleenthede hanteer.

Lam- en skaapvleis van eenderse ouderdom, maar vanuit verskillende produksiestreke, wat presies dieselfde hanteer en voorberei word, sal geproe word. Die betrokke Merinoboer van die plaas van herkoms van die vleis en ’n sjef sal inligting gee oor die redes vir verskillende smake.

Bestellings kan ook voor 25 April, teen ’n ekspoprys, by 021 863 0397 geplaas word vir plaasvars Merinolammers. Saam met die Merino-ras deel en ondersteun die Dohne-Merinoras, die SA Vleismerino’s en Afrino’s ook die konferensie.

Almal is welkom
Die Merino-ekspo van 2014 is ’n ope ekspo wat almal kan bywoon. Die hele waardeketting vanaf die plaaswerf tot by die eindverbruiker word uitgebeeld.                                                  

Die Merino 2014-ekspo is gerig op die hele gesin, jonk en oud. Daar sal vir mans en vroue, ook tieners, voorsiening gemaak word met die jongste suiwer wol mode-items en –bykomstighede.

Toegangskaartjies vir die ekspo kan nou by www.computicket.co.za bespreek en by enige Checkers of Shoprite afgehaal word. Toegang beloop: Volwassenes: R50; Pensioenarisse: R30 en Kinders onder 12: R10.

Rig navrae oor die ekspo en uitstalings aan Reinette by eventsadmin@agrimega.co.za of by 021 863 0397.