Volgens die SA Graaninligtingsdiens (Sagis) is 1 089 375 ton mielies teen 28 Februarie uitgevoer, waarvan sowat 766 000 ton witmielies was en 324 000 ton geelmielies. Die meeste witmielies is na Namibië (144 000 ton) en Zimbabwe (137 000 ton) uitgevoer. Uitvoer na Zimbabwe het veral ’n hupstoot gekry nadat die regering daar besluit het om sy verbod op die invoer van geneties gemodifiseerde (GM) mielies op te hef. Groot tekorte word ervaar.

Die meeste geelmielies is na Swaziland (90 000 ton) en Botswana (65 000 ton) uitgevoer. In dieselfde tydperk het Suid-Afrika 478 000 ton geelmielies, hoofsaaklik uit Argentinië, ingevoer. Hierdie mielies was hoofsaaklik vir die kusgebiede bestem weens koste-oorwegings.

In die vorige bemarkingsjaar is meer as 2 miljoen ton mielies uitgevoer ná ’n rekord-oordragvoorraad van byna 4 miljoen ton. Suid-Afrika het die bemarkingsjaar verlede Mei met ’n aansienlik kleiner oordragvoorraad begin en die Nasionale Landboubemarkingsraad het toe uitvoer van ’n miljoen ton voorspel.

Volgens Sagis se syfers oor handelaars se uitvoervoornemens kan meer as 2,2 miljoen ton mielies uitgevoer word. Van begin Maart tot 24 April is die voorneme om nog 221 274 ton uit te voer, waarvan 175 000 ton witmielies sal wees en die res geelmielies.