Die mielieprys sal waarskynlik eerder nog slegter raak voor dit beter sal gaan. Dit sal iets dramaties verg soos slegte weervooruitsigte, ’n baie sterker rand of beperkinge op boere se finansiering om prysen hupstoot te gee.

Dít is die siening van mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, wat by die Nampo-oesdag buite Bothaville oor die stand van sake in die graanbedryf gepraat het. Hy sê om ’n verwagte surplus van 3,6 miljoen ton uit te voer, gaan nie oornag gebeur nie.

“Die infrastruktuur by hawens is gereed om sowat 3,6 miljoen ton mielies uit te voer, maar hoe langer dit draal hoe groter gaan die druk raak. Die eerste diepsee-uitvoerkontrakte vir geel mielies is deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye toegestaan en ons verwag dat dit die hawens voor die einde van die maand sal verlaat.” Die belangrikste uitvoerbestemmings is Taiwan, Suid-Korea en Japan.

Samesprekings

De Villiers sê Graan SA het ook samesprekings met mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, gevoer om te help om nuwe markte in die Ooste en Midde-Ooste te vind.

Saoedi-Arabië is ’n goeie moontlikheid en daar is ook pogings om regulasies in plek te kry om na Indonesië uit te voer. Wat sojabone betref, sê hy hoewel ’n rekord-oes verwag word, sal dit steeds te min wees vir plaaslike verbruik.

“Graan SA volg twee benaderings om ’n groter vraag in die graanbedryf te skep. Ons bemoedig die produksie van pluimvee, suiwelboerdery en die veebedryf sowel as uitvoere van graan.”