Mieliepryse het die afgelope week daagliks afwaarts verhandel.

Wisselkoers:

Die wisselkoers het die afgelope week met 30 sent teenoor die Amerikaanse dollar versterk.

Die rand is besig om konstant teenoor die Amerikaanse dollar te versterk. Sekere finansi?le instellings meen dat die verwantskap tussen politieke onstabiele nuus en 'n gepaardgaande swakker rand nie noodwendig meer in die toekoms sal geld nie (dalk is politieke onstabiliteit reeds ingeprys). 'n Verdere rede kan 'n onlangse uitspraak deur pres. Donald Trump oor die Amerikaanse dollar wees, wat volgens hom te sterk is.

Verhandeling vir die volgende week behoort sywaarts te wees.

VSA mielieprys:

Die Amerikaanse mielieprys vir Julie 2017 soos wat dit op die CME-beurs verhandel, het met 7 Amerikaanse sent per skepel gedaal. Die daling is die gevolg van verbeterde weersomstandighede. Minder reën word oor die vernaamste mieliegebiede voorspel, met 'n verwagte toename in die oppervlakte wat geplant gaan word.   Die VSA het nou in alle erns begin mielies plant en is in die middel van ‘n weermark.  Verhandeling vir die komende week behoort opwaarts te wees.

Wit en geel mielies:

Julie 2017 JSE-wit mielies het vir die week onder bespreking met R83 per ton gedaal; geel mielies vir dieselfde maand het met R91 per ton gedaal. As gevolg van die Paasnaweek is bogenoemde daling in drie verhandelingsdae, in plaas van die normale vyf dae waaroor normaalweg berig word.

Afgesien van die versterking in die wisselkoers en die daling in die internasionale prys van mielies, was daar nie veel ander fundamentele nuus nie. Ryp het oor heelwat areas in die somersaaigebied voorgekom, maar het weinig, indien enige, impak op pryse gehad.

Die April-oesskatting word op Dinsdag, 25 April, bekend gemaak. Pryse vir die komende week behoort sywaarts te verhandel.

'n Grafiek van Julie 2017 mielies se prysbeweging vir die afgelope week kan hieronder gesien word.

* Geskryf deur Johann Strauss, navorser by BVG Commodities