Amerikaanse boere beoog om 39,26 miljoen ha mielies aan te plant, waarvan 92,4% mielies gestroop en die res onder meer vir kuilvoer gebruik word. ’n Rekordmielie-oes van sowat 406 miljoen ton word verwag. (Grafiek 1)

Dr. Werner Rossouw, handelaar en direkteur van Silostrat, sê Amerika se verbruik van mielies het vanaf die vroeë 2000’s gestyg (Grafiek 2). Die skerp groei is aangedryf deur ’n sterk toename in die gebruik van mielies vir etanol (Grafiek 4). Die internasionale Covid-19-pandemie en gevolglike inperkings se impak op die internasionale oliemark en brandstofverbruik internasionaal en in Amerika het tot gevolg dat ook minder etanol verbruik en benodig word.

Grafiek 1. Bron: Silostrat
Grafiek 2. Bron: Silostrat
silostrat
Grafiek 4. Bron: Silostrat

Amerikaanse mielie-uitvoer het vanaf 2000 op dieselfde vlakke gebly (Grafiek 3). Dit het ander lande soos Oekraïne, Argentinië en Brasilië die afgelope 20 jaar die geleentheid gebied om hulself toe te spits op produksie vir veral die uitvoermark (Grafiek 5).

Grafiek 3. Bron: Silostrat
silostrat
Grafiek 5. Bron: Silostrat

“Die enigste manier waarop Amerika sy voorraadsyfer laer kan kry, is om meer uit te voer, maar nou ding hy mee met dié drie lande wie se uitvoer baie sterk gegroei het,” sê Rossouw. “Slegte weerstoestande in Amerika kan ook ’n impak op internasionale en Amerikaanse mieliepryse hê. Ons verwag dus dat internasionale en Amerikaanse mieliepryse in die komende maande sywaarts of selfs laer kan neig.”

Weerstoestande

Amerika se mielie-oes sal tot ten minste Augustus vanjaar aan die risiko’s van weerstoestande blootgestel wees, wat ook pryse kan beïnvloed. Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê die optimale planttyd vir mielies eindig einde Mei.

Volgens die Amerikaanse departement se statistieke was sowat 75% van die land se mielies teen middel Mei geplant. “Dié aanplantings is heelwat vroeër gedoen as in 2019 en dit is ook vroeër as die gemiddelde planttyd van die afgelope vyf seisoene. Sowat 20% van die aanplantings het opgekom, wat ook beter is as die afgelope paar jaar se ooreenstemmende tydperke.”

In die deelstate Iowa en Kentucky het minimum temperature van onder vriespunt op 9 Mei kol-kol rypskade veroorsaak. Grondwatertoestande is oor die algemeen gunstig. Slegs in die noordwestelike dele, soos Montana, is toestande droër.

“As daar nie verdere koue en ryp voorkom nie, kan die somergraanaanplantings op ’n baie gunstige noot begin. Die weerstoestande rondom einde Julie en Augustus kan die oes egter beïnvloed, met ’n beweging na ’n La Niña-weerstelsel wat droër toestande in sekere dele van die Amerikaanse-mieliestreek tot gevolg kan hê.”

Suid-Afrika se oes

Suid-Afrikaanse boere is besig om mielies en ander somergewasse te stroop, veral in gebiede met vroeë aanplantings of waar droogte ondervind is. “Tans is daar nog te min gestroop om werklik afleidings te maak. Oor die algemeen kom dit voor dat die meeste opbrengste gemiddeld tot bogemiddeld kan wees, veral in die sentrale tot westelike dele van die somerreënstreek,” sê Van den Berg.

Rossouw sê die verwagting in die mark is dat ’n groot mielie-oes van rondom 16 miljoen ton kan realiseer. Dié groter plaaslike oes en die internasionale situasie kan internasionale mieliepryse en uitvoerpariteit onder druk plaas. Die mielieprys in Suid-Afrika sal in die komende maande onder druk wees en die verwagte internasionale neiging van sywaartse of dalende vlakke volg.