Die produsente-organisasie Graan SA sê in sy jongste vooruitskatting, gegrond op die amptelike oesskatting, dat 753 000 ton geelmielies waarskynlik vanjaar ingevoer sal moet word. Dít kan voedselprysinflasie aanhelp omdat die rand se waarde tans laag is, wat invoer duur maak.

Die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) se vraag-en-aanbodkomitee verwag in sy jongste vooruitskouing net invoer van 550 000 ton (500 000 ton geel mielies en 50 000 ton wit mielies) vir die jaar. Dit is egter moeilik om die twee te vergelyk, want die NLBR se mielie-bemarkingsjaar strek van begin Mei vanjaar tot einde April volgende jaar. En die bemarkingstydperk waarvoor Graan SA sy vooruitskattings doen, is van begin Maart vanjaar tot einde Februarie volgende jaar.

Die jongste rondte mielie-invoer het in reaksie op vanjaar se groot droogteskade reeds einde Maart begin. Teen 24 April het die amptelike invoersyfer al op 65 250 ton gestaan (uitsluitlik geel mielies). Daar was gerugte in die mark dat ’n verdere 33 000 ton geel mielies Suid-Afrika vandeesweek behoort te bereik, het mnr. Wandihle Sihlobo, Graan SA-ekonoom, gesê.

Daar was aanvanklik kommer dat Suid-Afrika se nasionale infrastruktuur gaan kreun onder die groot hoeveelheid mielies wat vanjaar ingevoer sal moet word. Landbouweekblad se navrae wys egter dat die invoere tot dusver nog sonder enige groot probleme verloop het.