Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se vyfde skatting vir die oes is 0,48% of 75 600 ton minder as verlede maand se skatting, maar dit is steeds 38% meer as verlede jaar se oes. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes, gaan na verwagting 84% van die 2020-oes produseer.

Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB, wys daarop dat die afname hoofsaaklik toegeskryf kan word aan minder geelmielies in Mpumalanga en Gauteng as wat aanvanklik geraam is. “Volgens verslae uit Mpumalanga het sommige gebiede ’n ernstige midsomerdroogte ondervind. Hoewel toestande teen die einde van die seisoen verbeter het, was die skade aan opbrengste reeds daar.”

Hy sê die groot oes is goeie nuus vir verbruikers omdat dit voedselinflasie in bedwang hou, veral wat brood en graanprodukte betref.

Die skatting van die totale oppervlakte onder mielies is 2,6 miljoen ha, terwyl die verwagte opbrengs 5,94 t/ha is. Daarvan is 1,6 miljoen ha onder witmielies en die res onder geelmielies. Die produksieskatting van witmielies is onveranderd gelaat op 9,1 miljoen ton, met ’n verwagte opbrengs van 5,61 t/ha. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 6,4 miljoen ton, wat 1,16% of 75 600 ton minder is as die vorige skatting. Die opbrengs van geelmielies is 6,47 t/ha.

Wat die nie-kommersiële sektor betref, raam die NOK die oes op 544 000 ton, wat 1% minder is as verlede jaar. Sowat 40% van hierdie mielies is in die Oos-Kaap geplant en 27% in KwaZulu-Natal.

Daar word steeds verwag dat sowat 2,7 miljoen ton mielies in die 2020-’21-bemarkingsjaar uitgevoer sal word. Volgens die SA Graaninligtingsdiens (Sagis) se jongste syfers was daar teen 19 Junie (die 8ste week van die bemarkingsjaar) reeds 370 000 ton mielies uitgevoer.

Wat geelmielies betref, is 227 600 ton uitgevoer waarvan 95 000 ton na Suid-Korea en 84 000 ton na Taiwan verskeep is. Sowat 142 300 ton witmielies is uitgevoer, waarvan 81 000 ton na Zimbabwe is en 14 000 ton na Namibië.

Handelaars se uitvoervoornemens dui daarop dat daar tot middel Augustus nog 708 000 ton mielies uitgevoer sal word, waarvan 576 000 ton geel en 132 000 ton wit sal wees.

Intussen het die NOK sy produksieskatting vir sojabone afwaarts aangepas met 2% (29 500 ton) tot 1,26 miljoen ton en vir sonneblomsaad is die skatting onveranderd op 765 960 ton.

Die geskatte oppervlakte beplant van sojabone is 705 000 ha en die verwagte opbrengs is 1,79 t/ha. Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 500 300 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,53 t/ha is.

Die verwagte grondboonoes is met 16,5% afwaarts aangepas tot 52 140 ton, sorghum is met 1,5% afwaarts aangepas tot 134 000 ton en droëbone is 3% minder op 69 000 ton.