Altesaam 94 sakke witmieliesaad is Donderdag omstreeks middernag op mnr. Jan Beukes se plaas Gunsteling in die distrik Ottosdal gesteel.

Mnr. Sarel Pretorius, voorsitter van Agri Noordwes se veiligheidskomitee en voorsitter van die provinsiale veediefstalvoorkomingsforum, sê die verlies by Beukes alleen beloop sowat R320 000. Vier ander boere in die omgewing het ook diefstal van mieliesaad aangemeld.

Pretorius sê in die maande voordat boere hul somergewasse kan aanplant, is die risiko groot dat mieliesaad gesteel word. “Boere loop al hoe meer deur onder diefstal. Dis nie net mieliesaad wat gesteel word nie, maar ook kunsmis, staalpype, draad, diesel, gereedskap en so kan die lys aangaan.”

Pretorius vra boere om paraat te wees vir verdagte optrede, persone en/of voertuie in hul omgewings. Sulke persone en voertuie moet by plaaswagte en sekuriteitsgroepe aangemeld word. Boere word ook aangemoedig om toe te sien dat hul mieliesaad veilig opgeberg word en om dit gereeld te kontroleer.

Diewe het verlede jaar honderde sakke mieliesaad in Noordwes en die Vrystaat gesteel. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.