Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming wil hom toespits op die herstel van grondregte, die versnelling van grondhervorming, die transformasie van grondbesit, die skep van werksgeleenthede en die verbetering van bedryfsvermoë.

Die departement is ’n begroting van R10,9 miljard vir 2019-’20 toegestaan, waarvan R2,9 miljard vir grondhervorming begroot is, R3,6 miljard vir restitusie en R1,8 miljard vir landelike ontwikkeling.

Oor die MTBR (wat oor drie jaar strek) is die departement se totale begroting R33 miljard. Dit beteken hy sal altesaam 31,9% (of R10,5 miljard) van sy totale departementele begroting bestee om die 1 732 eise af te handel.

Die bevestiging van grondeise verg baie navorsing en word hoofsaaklik deur konsultante gedoen. Na raming sal altesaam R343,2 miljoen oor dié tydperk aan konsultante bestee word. Om sy reikwydte rakende restitusie te verbeter, sal hy ’n omvattende kommunikasiestrategie van stapel stuur, wat op mediumtermyn R37,9 miljoen sal kos.

Herverdeling

Die departement beoog om in die volgende drie jaar sowat 269 539 ha strategies geleë grond te bekom deur R3,5 miljard vir die aankoop van dié grond toe te wys. Hierdie besteding kom vanuit die grondhervormingsprogram, wat na verwagting 25,5% of R8,3 miljard van die departement se totale besteding oor die tydperk sal uitmaak. Ingesluit by hierdie bedrag is R445 miljoen vir grondwaarderings deur die kantoor van die grondwaardeerder-generaal.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.