Tot op hede het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye aansoeke vir R566,5 miljoen ingedien. Dié geld is reeds aan die provinsiale departemente oorbetaal wat boere te hulp moet snel.

Mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, sê die R2,5 miljard is beskikbaar gestel vir die lewering van veevoer, waterinfrastruktuur, die sink, toerus en herstel van boorgate, veilings en ander ingrypings.

Agri SA het in sy jongste droogtebepaling aangedui dat die Noord-Kaap, Vrystaat, Oos-Kaap en Noordwes die provinsies is waar erge droogte heers en die situasie as kritiek beskou word.

NOORD-KAAP

Mlengana sê Namakwaland is tot rampgebied verklaar, en ’n proses is onderweg om die distriksmunisipaliteit Pixley ka Seme tot rampgebied te verklaar. Die provinsie het R500 000 vir die vervoer van voer geskenk, terwyl hy ook R25 miljoen ontvang het vir die aankoop van voer en die vervoer daarvan. Altesaam 226 kommersiële boere en 1 655 bestaansboere het van die hulpskema hulp ontvang.

Landbouweekblad verneem van Agri Noord-Kaap dat die distriksmunisipaliteit ZF Mgcawu ook in die proses is om tot droogterampgebied verklaar te word. Verder is daar aanduidings dat die hele provinsie tot rampgebied verklaar gaan word.

Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê die vertraging met die rampverklaring lê by die provinsiale rampbestuur, asook distrikmunisipaliteite wat onder die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake resorteer, waar die ratte baie stadig draai om rampverklarings te registreer.

“Dit wil voorkom of rampbestuur in ál sy fasette nie die vermoë en kundigheid het om landbourampe te bestuur nie. Tans help die LUR vir landbou baie om die proses te bespoedig.”

OMVANG BEPAAL

Dit is egter net die begin van die proses. Jansen sê dat die provinsiale rampbestuur ná die rampverklaring die grootte en omvang van die ramp moet bepaal om vas te stel hoeveel hulp nodig is. Daarna moet die provinsiale rampbestuur kyk of hy die ramp kan hanteer. Indien nie, moet hy aansoek doen by die Tesourie om hulp en finansiële verligting. Dan moet die Tesourie die geld vind en dit deur die Departement van Landbou na diensverskaffers kanaliseer om die hulp op grondvlak uit te kry.

Hy sê Agri Noord-Kaap probeer die proses versnel deur op provinsiale vlak én nasionaal tegelyk voorbereidingsgesprekke te hê en voorbrand te maak. Die doelwit is om die prosesse afgehandel te kry voor die einde van die huidige boekjaar in die hoop om ongebruikte geld hertoegewys te kry vir ramphulp. “Daarom is ons reeds besig om departementele aansoekvorms in te vul om die data te verkry wat nodig is om die behoefte korrek te bepaal,” sê Jansen.

VRYSTAAT

Mlengana sê die Vrystaat het vroeër met sy provinsiale rampverklaring in 2016-’17 R31 miljoen vir veevoer gekry, waarmee 3 975 kommersiële boere, 902 kleinboere en 3 649 bestaans- boere gehelp is.

Me. Zimasa Mbewu, woordvoerder van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling, sê die departement het ’n rampgebiedverklaring versoek. “Memorandums is opgestel ter ondersteuning dat die Vrystaat tot ’n midsomer-droogterampgebied verklaar moet word.”

Sy sê die departement het ’n goeie sakeplan opgestel wat sy projekte en begrotingsbehoeftes van sowat R70 miljoen aandui. Dit sluit onder meer in die sink van boorgate, die voorsiening van veevoer en medikasie vir vee, die skep van brandbane en die bewusmaking en bou van vermoëns rakende die voorkoming en versagting van droogterisiko.

Die departement het in dié stadium nog nie die presiese syfers van hoeveel boere hulp benodig nie. Vorms is onder boere versprei om die behoefte te bepaal.

WATERVOORSIENING

Einde verlede jaar het die Vrystaat R6 miljoen gekry om 35 damme in die distrikte Paul Roux en Rosendal te ontslik, en R7,5 miljoen is toegestaan vir die aanwys, sink en ontwikkeling van 45 boorgate reg oor die provinsie. Die proses om diensverskaffers hiervoor aan te stel, het reeds begin.

Die situasie is die ergste in die distriksmunisipaliteite Xhariep, Mangaung Metro en Lejweleputswa, waar tekens van die droogte sigbaar is en die meeste munisipaliteite aan waterbeperkings onderworpe is. “Die veld en vee is in ’n baie slegte toestand, maar weiveld onder besproeiing is in ’n goeie toestand. Die gemiddelde damvlakke het verbeter vanaf 64% in 2018 tot 72% vanjaar.”

ANDER PROVINSIES

Volgens Mlengana het die Oos-Kaap met sy droogteverklaring verlede jaar in die distriksmunisipaliteite OR Tambo, Joe Ggabi en Chris Hani reeds R39 miljoen gekry vir veevoer en waterinfrastruktuur. Hiermee is 10 kommersiële boere, 1 308 kleinboere en 2 185 bestaansboere gehelp.

Noordwes het ramphulp van R38 miljoen gekry, en 1 750 kommersiële boere, 2 645 kleinboere en 22 599 bestaansboere is met die geld gehelp. Die Wes-Kaap het R40 miljoen van die Nasionale Rampbestuursentrum ontvang en die provinsie het self R67 miljoen vir veevoer bygedra. ’n Verdere R12 miljoen is ook aan die provinsie beskikbaar gestel vir veevoer. Dit het 313 kommersiële en 627 bestaansboere gehelp.

Mpumalanga het R26 miljoen vir veevoer gekry. Altesame 15 926 boere het by hierdie ramphulp baat gevind. Limpopo het R28 miljoen vir veevoer gekry, en 14 625 boere is gehelp.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.