Die gesaghebbende Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) sê in sy vooruitskouing vir 2018-2027 vernuwing, produktiwiteit en beleggings in die beste tegnologie sal deurslaggewend wees as die landbousektor vorentoe voorspoedig wil wees.

Die BFAP-verslag, ’n jaarlikse gesamentlike projek van die universiteite van Pretoria en Stellenbosch, die Wes-Kaapse departement van landbou en meer as 40 internasionale en plaaslike medewerkers, is pas bekend gestel. Luidens die verslag gaan die bruto binnelandse produk (BBP) vir die landbou, wat verlede jaar ’n hoogtepunt bereik het, kwaai daal.

Dit word toegeskryf aan die invloed van die Wes-Kaapse droogte op uitvoer, ’n terugkeer na gemiddelde somergraanoeste op lang termyn, groot oordragvoorrade wat pryse demp, en die invloed van siektes, soos voëlgriep en listeriose, op die vleisbedryf.

Oor die komende tien jaar verwag die BFAP ’n stadige herstel in die landbou se BBP tot dit sal konsolideer op vlakke soos dié van 2013-’14 in reële terme (sien grafiek 1).

Die verslag beklemtoon dat die vooruitskouing gegrond is op ’n aanname dat weerstoestande normaal sal wees en die politieke beleidsomgewing stabiel. Die veronderstelling is dat grondhervorming suksesvol toegepas word sonder nadelige invloed op beleggings en produksie, en met sterk eindomsreg in ’n markgerigte ekonomie.

Die BFAP waarsku dat grondhervorming en onteiening sonder vergoeding een van die grootste onsekerhede in die landbousektor is. “Daar is toenemende fiksasie oor die kwessie van grondeienaarskap, maar oor wat ná oordrag met die grond moet gebeur, word nie voldoende gepraat nie.”

Die verslag beklemtoon dat grondhervorming die kern van die kommersiële sektor, as die dryfkrag van die ekonomie en voedselsekerheid, moet steun om te voorkom dat dit in duie stort. Die politieke retoriek oor onteiening het reeds beleggings in die landbou aansienlik benadeel.

Die BFAP sê aanvanklike aanduidings is dat die waarde van landbou-uitvoer sonder voortgesette beleggings met 40% kan daal en dat 30% van werkgeleenthede in die uitvoergerigte bedrywe op kort termyn verlore kan gaan. Suid-Afrika is by ’n kruispad met grondhervorming.

Te midde van trae ekonomiese groei, hoë werkloosheid, verswakte regeringsinstellings en munisipaliteite wat in duie stort, is daar net een volhoubare opsie: Die totale beskikbare kapasiteit en hulpbronne van alle belanghebbendes binne die openbare en private sektor moet saam ingespan word om gesamentlik doelwitte te bepaal en te bereik.

’n Aantal faktore wat die verwagte stadige herstel in die BBP beïnvloed, sluit die volgende in: Hoewel verbruikersbesteding onder druk sal bly, veroorsaak hoër inkomstevlakke dat verbruikers wegbeweeg van basiese stapelvoedsel na vleis en suiwelprodukte.

Die verbruik van hoendervleis sal na verwagting met 27% styg tot in 2027, terwyl die vraag na beesvleis oor dieselfde tydperk met 24% sal toeneem. Op kort termyn sal die aanbod van bees- en skaapvleis beperk bly weens die heropbou van kuddes ná die onlangse droogte.

Teen die huidige lae graanpryse is intensiewe vleisproduksie weer winsgewender en uitbreiding sal gelei word deur hoender as die grootste sektor met die kortste produksiesiklus. ’n Groeiende vraag na dierevoer, ’n matige herstel in internasionale graanpryse én ’n wisselkoers wat verswak, kan help om plaaslike graan- en oliesaadpryse teen 2020 te laat herstel.

Tot 2027 sal hoër pryse deur ’n verlaging in die wisselkoers bepaal word, maar die verwagting is dat dit nie inflasie sal klop nie. Op kort termyn sal boere in die weste van Suid-Afrika se inkomste en kontantvloei onder druk bly weens die droogte se invloed.

In die somerreëngebied sal die oppervlak onder gesaaides eers afneem en ná 2020 bly op vlakke soortgelyk aan dié van 2015. Meer geel mielies en sojabone sal aangeplant word ten koste van wit mielies.

Ondanks die feit dat tuinbou een van die snel groeiendste subsektore in onlangse jare was, sal die inkomste uit tuinbouprodukte op kort termyn onder druk wees weens die droogte en watertekorte in dieWes-Kaap, wat skade aan boorde aangerig het. Die verwagte voortgesette verswakking van die wisselkoers sal prysmededingendheid in die wêreldmark steun.

Terselfdertyd sal dit buitelandse produksiemiddele duurder maak. Vir die hele landbousektor gaan die kombinasie van ’n swakker rand en stygende oliepryse die koste van produksiemiddele, soos brandstof en kunsmis, oor die volgende tien jaar laat bly styg (sien grafiek 2).

Boere sal ál kostedoeltreffender moet boer om te oorleef.

Hou komende uitgawes van Landbouweekblad dop vir BFAP-vooruitskouings vir spesifieke bedrywe.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.