Met meer as 20 mm reën oor die suidelike dele van die Weskus, die Swartland, die Wynland en die Breederiviervallei, asook oor die Suid-Kaap tot in die Rûens behoort die neerslae oor die wintergraangebiede voldoende te wees om wintergraan binne die optimale planttyd te kan aanplant, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.

Weermodelle dui aan dat die volgende frontale stelsel wat ligte reën na die Wes-Kaap kan bring, rondom 8 Junie kan voorkom. “Met die uitsondering van die Wes-Kaap word min of geen reën vir bykans die hele land vir die volgende ten minste drie tot vier weke verwag.”

Van den Berg sê oor die algemeen kan reënval vanjaar in die winterreëngebied gemiddeld tot ondergemiddeld wees. Dit moet wel in ag geneem word dat die voorspelbaarheid van weerstelsels gedurende die herfs swakker is as in ander tye van die jaar.

Van den Berg sê dit is belangrik dat die winterreëngebied se damme in die komende maande aangevul word, met onder meer die Clanwilliamdam se vlak wat gedaal het tot sowat 5% van sy totale kapasiteit. “Dit lyk egter nie of genoeg reën gaan voorkom om die rampdroogte en watervoorsiening aan veral die Nelson Mandela-metropool te verlig nie. Die meeste damme wat die metro van water voorsien, is van 10% tot 45% vol. Dit geld ook vir besproeiing in die Gamtoosvallei. Watervoorsiening aan die munisipale gebied Buffalo City en die omliggende besproeiingsgebiede is onder druk met die vlak van die Wriggleswadedam op slegs 28%.”

Temperature

Minimum temperature het in die laaste week van Mei ook vir die eerste keer dié winter oor groot dele van veral die sentrale, suidelike en suidoostelike dele van die land tot ver onder vriespunt gedaal. Dit is gunstig vir gewasse wat koue eenhede benodig om in ’n rusperiode in te gaan, soos druiwe, perskes en appels, asook neute soos pekan- en okkerneute.

Somergewasse wat nog op die lande staan, het volwassenheid bereik, derhalwe is die risiko vir ryp verby.

“Weidings se gehalte gaan vinnig verswak met die baie koue toestande en boere sal veral produksievee aanvullings moet gee. Die koue toestande sal ook veroorsaak dat voeding van ’n hoër gehalte beskikbaar moet wees sodat diere genoeg hitte kan produseer om hul normale liggaamshitte te kan handhaaf.”

50%-kans vir La Niña

Ten opsigte van die Enso- (El Nino Suidelike Ossilasie) indeks dui die meeste weermodelle aan dat La Niña-toestande in die somerseisoen van 2020-’21 kan ontwikkel. “Die kanse vir die herontwikkeling van El Niño-toestande is ongeveer 10% met ’n 40%-kans vir neutrale toestande en byna 50%-kans vir La Niña-toestande.”

Wat die Indiese Oseaan betref, dui voorspellings aan dat die Indiese Oseaan-dipool- (IOD) indeks in ’n negatiewe fase kan ingaan. ’n Sterk negatiewe IOD is baie gunstig vir somerreën.

“Die huidige langtermynvoorspellings van La Niña-toestande en ’n negatiewe IOD is baie gunstig vir bogemiddelde reënval oor veral die sentrale, westelike en suidoostelike dele van die somerreëngebied, asook Namibië vanaf ongeveer November 2020.”