Danksy reën einde Desember en op die eerste nege dae van Januarie kon boere in die westelike dele van die Vrystaat en Noordwes steeds mielies aanplant al was die optimale planttyd daarvoor verby. Sedertdien het die reën weer weggebly en die situasie is op ’n naaldpunt.

Mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê volgens aanduidings uit die bedryf is sowat 60% van die voorgenome aanplantings in Noordwes en die sentrale en westelike dele van die Vrystaat wel geplant, en sowat 70% in die oostelike deel van die Vrystaat.

Hy het aan Fin24 gesê ’n swak oes, veral vir wit mielies, word in hierdie dele verwag weens die laat aanplantings en min reën sedertdien.

“In die oostelike produksiegebiede, waar hoofsaaklik geel mielies en sojabone verbou word, kan daar nog ’n redelik goeie oes wees mits dit van nou af en in Februarie reën wanneer dit tipies die bestuiwingstadium is.”

Hy meen die voorgenome oppervlakte vir mielie-aanplantings van 2,44 miljoen ha kan met sowat 19% tot by 1,98 miljoen ha afneem. Dit sal omtrent dieselfde wees as in die 2015-’16-produksiejaar toe 7,8 miljoen ton mielies geoes is en Suid-Afrika mielies moes invoer.

“Die verskil is nou dat Suid-Afrika ’n oordragvoorraad van sowat 3,4 miljoen ton sal hê wat in Mei na die 2019-’20-bemarkingsjaar oorgedra sal word. As die oes minstens 8 miljoen ton kan wees en uitvoer is nie baie nie, behoort Suid-Afrika selfvoorsienend vir die bemarkingsjaar te wees.”

’n Belangrike aanwyser sal die Nasionale Oesskattingskomitee se voorlopige oppervlakteskatting wees wat op 29 Januarie bekend gemaak sal word.

“Wat ook al gebeur, ons kan aanvaar dat 2018-’19 ’n swakker produksiejaar as die vorige een gaan wees en dit sal nadelige geldelike implikasies inhou, nie net vir graanboere en verbruikers nie, maar ook vir die vee- en pluimveebedryf, wat mielies en sojabone as voer benut.” 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.