’n Seksie in die nuwe wet wat aandui dat dit onbillike arbeidspraktyk is vir werkgewers om lone, werksure of ander voorwaardes van indiensneming te verander in reaksie op die toepassing van die minimum loon, is aan die verkeerde klousule in die wet toegewys.

Weens dié fout lui die wet nou dat die betaling van die minimum loon terugwerkend geld vanaf 1 Mei 2017.

Ingevolge die nasionale minimum loon is die minimum betaling vir ’n werker R20 per uur. Dit het reeds op 1 Januarie in werking getree. Die landbousektor het spesiale vergunning gekry om die minimum loon in te faseer, derhalwe is die betaling vir plaaswerkers vanjaar R18 per uur.

Die Presidensie het besluit om voort te gaan met die promulgering van die wetgewing en eers die verwysing na die terugwerkendheid uit te laat. Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa) verduidelik daar is nie ooreengekom oor die terugwerking van die minimum loon nie en die organisasie het reeds aangedui dat hy glo die verwysingsfout deur die Departement van Arbeid reggestel sal word.

Regstel van fout

Die Parlement se portefeuljekomitee van arbeid het op ’n vergadering besluit dat hy self ’n wysigingswetsontwerp na die Parlement sal bring om die fout reg te stel.

Mnr. Michael Prince, regsadviseur by die Parlement, het verduidelik dat daar verskeie maniere is om ’n wysigingswetsontwerp in te stel om die probleem op te los.

Die uitvoerende gesag, ’n parlementslid of die arbeidskomitee self kan die wysigingswetsontwerp voorstel. Hy het aanbeveel dat die arbeidskomitee self die tegniese wysiging doen.

Mnr. Thobile Lamati, direkteur-generaal van die Departement van Arbeid, het gesê dat die departement geen prosesse begin het om die fout reg te stel nie, omdat dit onder die indruk was die portefeuljekomitee sal die fout regstel.

Die portefeuljekomitee het op die vergadering ’n memorandum onderteken waar hy ’n versoek tot die Speaker rig om hom toestemming te gee om ’n wysigingswetsontwerp op te stel om die verwysingsfout reg te stel.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.