Creecy het in die Staatskoerant van 20 September ’n wysiging tot die wet hieroor afgekondig ten spyte van ’n vroeëre aansoek wat die forelbedryf voor die hof gebring het om so ’n wysiging te verhinder.

“Die minister het pas die hele forelwaardeketting onwettig gemaak,” skryf Cox op sy Facebook-blad in reaksie op die afkondiging.

Cox sê die nuwe wetgewing sal op 20 Oktober van krag wees. Dit sal beteken enigiemand wat forel-eiers wil invoer, laat uitbroei of met forel wil teel, sal ’n permit kragtens die wet nodig sal hê. Dieselfde geld die vervoer en verskaffing, verspreiding of vrylaat van lewende forel.

Dit sal kragtens die nuwe wetgewing nie eens wettig wees om water waarin forel aangehou is, in ’n waterstelsel soos rivier of stroom uit te laat nie.

Cox wys daarop dat die nuwe permitstelsel nie dieselfde is as wat tans deur provinsiale departemente uitgereik word nie en dat dit slegs deur die minister uitgereik kan word.

Hy sê die vereistes vir die uitreiking van so ’n permit is besonder streng en waarsku dat baie bestaande forelplase gaan sukkel om daaraan te voldoen. Selfs dié wat kan voldoen, sal dit onmoontlik vind om voor 20 Oktober permitte te kry.

Omdat forel meer as 100 jaar gelede al in Suid-Afrika gevestig is, meen die meeste vlieghengelaars en forelboere die spesie hou eintlik geen verdere gevaar vir die land se ekostelsels in nie. 

Hoop op die hof

Fosaf het vroeër ’n aansoek voor die Gautengse hooggeregshof gebring waarin hy die wettigheid bevraagteken van me. Edna Molewa, die vorige minister van omgewingsake, se voorneme om hierdie wetgewing te proklameer. Die organisasie sê die departement het nie die regte stappe gevolg soos die wet vereis nie. Verder ontneem die staat Suid-Afrikaners van hul reg op betekenisvolle deelname aan die wetgewende proses deur nie voldoende inligting beskikbaar te stel nie.

Mnr. Gerrie van der Merwe, eienaar van Lunsklip Visserye en voorsitter van Trout SA, meen die regering verreken nie die potensiële gevolge wat die voorgestelde wetgewing en regulasies vir vlieghengel, forelboerdery en verskeie plattelandse dorpe kan inhou nie.

Voorlopige navorsing wys hengelgidse en die verkope van hengeltoerusting verdien saam omtrent R1,8 miljard per jaar. Hengelaars en die vlieghengelverwante gasvryheidsbedryf het al sowat R7,5 miljard in gastehuise, oorde, hotelle en restaurante belê.

Volgens Trout SA skep die forelwaardeketting sowat 13 000 werksgeleenthede in Suid-Afrika.

Cox sê die enigste raad is nou om ’n interdik teen die inwerkingtreding van die nuwe wetgewing te verkry tot nadat die hofaansoek teen die wettigheid van die proses aangehoor is. Hy glo so ’n aansoek het ’n redelike kans op sukses en het reeds die bal aan die rol gesit om dit voor die hof te kry.