Na ’n vergadering met die akwakultuurorganisasie Aqua SA het Creecy ingestem om die sperdatum waarop wysigings aan die Nasionale Omgewingsbestuurswet vir Biodiversiteit (Nemba) (Wet 10 van 2004) in werking sou tree, tot Maart volgende jaar uit te stel.

Haar departement het vroeër kennis gegee dat forel van 19 Oktober af tot die lys van uitheemse indringerspesies onder Nemba gevoeg sou word. Van 20 Oktober af sou dit beteken dat enigiemand wat foreleiers wil invoer, laat uitbroei of met forel wil teel, ’n permit kragtens Nemba nodig sal hê. Dieselfde geld die vervoer en verskaffing, verspreiding of vrylaat van lewende forel.

Fosaf vrees dit sal forelboerdery en die gebruiklike loslaat van dié vis in bestaande forelwater ’n strafbare oortreding maak en het reeds teen die vorige minister ’n aansoek voor die Gautengse hooggeregshof gebring waarin hy die wettigheid van die minister se voorneme bevraagteken. Die organisasie sê die departement het nie die regte stappe gedoen soos die wet vereis nie en deur nie voldoende inligting beskikbaar te stel nie, ontneem die staat Suid-Afrikaners van hul reg op betekenisvolle deelname in die wetgewende proses.

Nadat die kennisgewing op 18 en 25 September in die Staatskoerant afgekondig is, het Fosaf ’n dringende aansoek gebring om te verhinder dat die wetgewing op 19 Oktober in werking tree.

Saam met Creecy se toegewing om hierdie datum uit te stel, is ooreengekom dat Fosaf sy dringende hofaansoek sal terugtrek en dat albei partye hul eie regskoste sal dra.

Die aansoek rakende betekenisvolle deelname en die korrekte proses vir nuwe wetgewing gaan egter voort en sal op 26 Oktober aangehoor word.

Creecy het intussen opdrag gegee dat haar departement ’n taakspan op die been bring om werkbare oplossings vir die forelbedryf saam met Aqua SA te soek. Sy wil oor ses weke die eerste verslag sien.

“Ons is bly ons kon ’n voordelige ooreenkoms rondom die dringende interdik bereik,” sê Fosaf in ’n verklaring. “Dit bied Fosaf en sy vennote tyd en ruimte om te onderhandel vir ’n meer aanvaarbare oplossing vir die krisis waarin die bedryf hom bevind.”