Die waarskuwing kom van die sentrum vir ontwikkeling en onderneming (CDE) in sy kommentaar oor die wetsontwerp. Om amptelike misbruik te voorkom, stel die CDE veranderinge in die beoogde wetgewing voor waarvolgens amptenare in hul persoonlike hoedanigheid strafregtelik aanspreeklik gehou kan vir onteiening weens ander redes as waarvoor in die wet voorsiening gemaak word. 

In ernstige kritiek op die wetsontwerp sê me. Ann Bernstein, uitvoerende direkteur, dit is die slegste tyd denkbaar vir Suid-Afrika om sy onteieningsproses te hersien. Die land probeer desperaat beleggings lok en kan die nuusopskrifte oor die proses om die onteieningswetsontwerp deur die parlement te voer kwalik bekostig. 

“Suid-Afrika se probleme met grondhervorming gaan nie oor onteiening nie. Die wetsontwerp doen niks aan die onderliggende probleme van kapasiteit, bekwaamheid en integriteit wat die regering se grondhervormingstrategie kortwiek nie.”

Die CDE sê om die beoogde wetgewing te evalueer, is dit belangrik om dit te vergelyk met die bestaande bepalings waarvoor in die Onteieningswet van 1975 voorsiening gemaak word. “Daar is wesenlik verskille, maar hulle is nie so radikaal en drasties as wat sommige mense probeer voorgee nie. Dit is nie ’n goeie wetsontwerp nie. 

“Onteiening is ’n noodsaaklik euwel in alle gemeenskappe, maar dit is indringend en gevaarlik. Dit moet so min as moontlik gebruik word, slegs in openbare belang en op ’n grondslag van duidelik verantwoordbare reëls wat regverdig teenoor almal is.”

Sy sê die vernaamste beperking op die magte van die meer as 250 owerhede wat kan onteien, is gewoonlik in die vereiste van “regverdige en billike” vergoeding. Hierdie basiese beperking word verwater deur die verklaring dat regverdige en billike vergoeding in sommige gevalle nul kan wees, hoewel die omstandighede waaronder nulvergoeding toegepas kan word die uitsondering op die reël is en in baie min gevalle toegepas sal kan word. 

Bernstein sê haar grootste kwelling is dat daar waarskynlik baie politici en amptenare sal wees wat nie die wetgewing sal verstaan nie en sal probeer om dit te misbruik. Dit kan groot skade aan Suid-Afrika se reputasie as ’n beskermer van eiendomsregte aanrig, selfs al doen die howe hul werk om misbruike te beperk en te straf.

Daarom stel die CDE belangrike wysigings aan die wetsontwerp voor soos die strafregtelike aanspreeklikheid van amptenare in hul persoonlike hoedanigheid. Nog ’n voorgestelde wysiging is dat die wet “grondhervorming” duidelik moet omskryf en beperk tot restitusie en grondherverdeling soos dit in die Grondwet omskryf word. In hierdie stadium word die term “grondhervorming” nie in die wetsontwerp of die voorgestelde wysiging van artikel 25 van die Grondwet omskryf nie. 

Bernstein sê die gebrek aan geld by ’n staatsinstelling moet nie deur howe in ag geneem word by die bepaling van wat billike en regverdige vergoeding behoort te wees nie. 

Sy sê die afgelope twee dekades werk die CDE al aan grondhervorming. Die sentrum het al met volledige en praktiese voorstelle gekom oor hoe Suid-Afrika die nalatenskap van apartheid uit die weg kan ruim, hoe gebou kan word op die kapasiteit van die staat en die private sektor om grondhervorming suksesvol te bestuur en om te help om ’n voorspoedige toekoms vir alle inwoners, landelik en stedelik, te verseker.

Die sentrum beklemtoon in die slotbetoog van sy kommentaar die wetsontwerp kan ’n werkbare poging wees om ’n balans te vind tussen verskillende belange, maar dan moet onteiening regverdig, wetlik en by uitsondering geskied. Gevalle van onteiening teen nulvergoeding moet nog meer uitsonderlik wees.