Hoewel die polisie aangekondig het dat daar in die 2018-’19-boekjaar 47 plaasmoorde gepleeg is, vergeleke met 62 in die vorige boekjaar, is dié syfer teen sowat vier moorde per maand steeds te hoog.

Só meen mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee, oor die plaasmoordsyfer wat op Donderdag 12 September saam met Suid-Afrika se jongste jaarlikse misdaadstatistieke amptelik in die parlement aangekondig is.

Hy sê die aantal aanvalle op landbougemeenskappe en die wreedheid wat daarmee gepaardgaan, is onaanvaarbaar. “Alles moet in die stryd gewerp word om dié gemeenskappe, wat verantwoordelik is vir voedselsekerheid in Suid-Afrika, te beskerm.”

Hy sê Agri SA gee erkenning aan die boerderygemeenskap wat op eie inisiatief veiligheidstrukture en plaaslike inisiatiewe opgeskerp het ten spyte van die hoë koste wat daaraan verbonde is. 

Veediefstal

Esterhuyse sê ’n opname deur Agri SA het bevind dat veediefstal, wat vanjaar ook toegeneem het, saam met die diefstal van plaasinfrastruktuur en werktuie, miljarde rande skade vir die landboubedryf veroorsaak. “Veediefstal is al hoe meer die doel van georganiseerde misdaad en die polisie moet dit as sodanig ondersoek.”

Hy sê daar is die afgelope 15 maande meer as 2 700 stuks vee by Harrismith en Bethlehem gesteel, terwyl slegs 300 sake van veediefstal by die polisie aangemeld is. “Die boerderygemeenskap meld al hoe minder eiendomsverwante misdade aan omdat daar nie meer vertroue in die strafregstelsel is om ’n suksesvolle vervolging van misdadigers te verseker nie.”

Hy sê dat Agri SA vir die polisie ’n pluimpie wil gee vir die feit dat statistieke oor plaasaanvalle by misdaadstatistieke ingesluit word en dat dit ’n aanduiding van ’n gesindheidsverandering is. Agri SA verwelkom ook die nuwe hersiene landelike beveiligingstrategie wat binnekort bekend gestel word. “Agri SA was betrokke by die opstel van dié hersiene strategie en hoop dit sal verder momentum aan plaasbeveiliging verleen.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.