Mnr. Dricus Botha, uitvoerende hoof van TLU SA Noord, sê daar sal maniere gevind moet word om met mekaar te praat oor landelike veiligheid. “Ek sou eintlik hierdie week ’n groot vergadering met alle belanghebbendes daaroor wou hou, maar nou gaan ons nuwe, innoverende maniere moet kry om vergaderings te hou.”

Hy is veral bekommerd oor ouer mense nadat twee bejaardes verlede Vrydag in die provinsie vermoor is. Mnre. Alwyn van Zyl, ’n boer van Badseloop naby Mookgophong (Naboomspruit), en Koos Dreyer, ’n inwoner van Groblersdal, is in in hul huise aangeval, beroof en vermoor.

Me. Deirdre Carter, uitvoerende hoof van Agri Limpopo, voorspel dat mense by hul huise gaan rondsit. Veral jeugdiges kan verveeld raak en dan wil kwaad doen. “Mense gaan ook desperaat raak,” waarsku sy.

Carter en Botha doen ’n beroep op boere oral in Suid-Afrika om hul werkers gerus te stel voordat die totale inperking in werking tree sodat mense nie onbesonne dade aanvang omdat hulle onseker en desperaat raak nie.

Carter sê mense met kontantwinkels op plase moet seker maak hulle beveiligingstelsels funksioneer optimaal en dat hul kommunikasiekanale met bure en veiligheidsnetwerke 100% funksioneer. “Mense sien foto’s van leë winkelrakke op sosiale media en raak desperaat,” sê sy.

Botha voeg by dat eienaars van pakhuise en aanlegte waar met vars produkte gewerk word, ook ekstra paraat sal moet wees.

Botha sê hoewel mens altyd bekommerd is oor die geleenthede wat misdadigers in sulke ekstreme omstandighede raaksien, is hy bemoedig deur die algemene optimisme van Suid-Afrikaners. “Ek het nog niemand sien weier om byvoorbeeld hul hande met reiniger te laat spuit by die winkels waar ek inkopies doen nie. Daar is normaalweg nie teen kibbeling teen die president se maatreëls nie.”

‘VROUE GROTER TEIKEN OP VS PLASE’

Intussen het Vrystaat Landbou (VL) sy kommer uitgespreek oor die twee plaasaanvalle in die provinsie binne die bestek van 12 uur op 22 en 23 Maart 2020. Me. Wilna Swanepoel van die plaas Môrester, Bothaville, en mnr. Dries van der Walt van die plaas Driekop, Tweeling, is aangeval.

Volgens die VL het twee aanvallers Swanepoel teen 19:30 by ’n plaashek oorval en na ’n koelkamer gedwing waar sy met ’n mes in die long en arm gesteek is. Die verdagtes het met haar handsak en selfoon gevlug. Sy is later deur familielede gevind. Sy word in ’n Klerksdorpse hospitaal behandel.Van der Walt is kort voor 06:00 deur vier gewapende aanvallers aangehou en aangerand. Hulle het vuurwapens en ’n Nissan NP200 geroof. Die bakkie is naby Reitz gevind.

Volgens dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van VL, is dit kommerwekkend dat veral vroue wat ouer as 50 jaar is, aangeval word. “In die eerste week van Maart 2020 het twee plaasaanvalle by Verkykerskop en Marquard voorgekom wat die getal vroulike slagoffers op drie te staan bring teenoor een man.”

In Februarie 2020 is twee vroue in die Vrystaat aangeval. “Die VL veroordeel alle aanvalle op enige boer, maar des te meer word aanvalle op vroue, en veral ouer vroue, veroordeel,” sê Buys.

Mnr. Jakkals le Roux, voorsitter van die VL se landelike veiligheidskomitee, vra dat alle vroue wat alleen woon, by hul plaaslike landbouverenigings inskakel.

Volgens mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se landelike veiligheidskomitee, wil dit voorkom asof plaasaanvalle die afgelope week in die land aan die toeneem is. “Die voorkoms van die korona-besmetting blyk ’n uitwerking op verhoogde wetteloosheid in landelike gebiede te hê, soos ernstige geweldsmisdaad. Die beperking op mense se beweging om die verspreiding van die virus te beperk, kan bydraend wees dat opportunistiese misdadigers die boerderygemeenskap as maklike teikens beskou.”