Dít is deel van die feite waaroor die Regering nie kan stry nie en wat wys landelike gebiede is in ’n misdaadoorlog vasgevang, sê die burgerregte-organisasie AfriForum.

AfriForum het vandag op ’n nuuskonferensie in Pretoria gesê die inligting wat na die internasionale gemeenskap versprei word, is gegrond op feite wat bevestig dat daar ernstige bedreiging van eiendomsreg en menselewens in Suid-Afrika bestaan. 

AfriForum glo hierdie bedreiging geld veral minderheidsgemeenskappe in die algemeen en veral wit boere in die besonder. 

Die organisasie wil sy internasionale veldtog teen plaasmoorde en die miskenning van eiendomsreg in Suid-Afrika verskerp. Die nuuskonferensie volg nadat me. Lindiwe Sisulu, Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, verlede week beweer het AfriForum saai paniek in die internasionale gemeenskap deur onjuiste inligting te versprei.

“Ons mense word afgemaai”
Mnr. Ian Cameron, AfriForum se hoof van veiligheid, sê “ons mense word afgemaai”.

Hy sê hoewel die Suid-Afrikaanse Regering die afgelope week ontken het die landelike gebiede word deur ’n geweldskrisis in die gesig gestaar, bewys die getalle juis dat geweld in hierdie areas buitensporig erg is.

Hy voeg by dat marteling met strykysters, blaasvlamme, gesmelte plastiek en kookwater duur dikwels vir ure voort tydens plaasaanvalle. Hy sê ook daar is ’n beduidende toename in hierdie tipe aanvalle in die Wes- en Noord-Kaap.

Mnr. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die Suid-Afrikaanse regering onderskat die internasionale gemeenskap se intelligensie deur voor te gee dat eiendomsreg in Suid-Afrika nie bedreig word nie. Hy sê dit is onbetwisbare feite dat die regerende party (die ANC) onteiening sonder vergoeding as partybeleid aanvaar het en besluit het Suid-Afrika se Grondwet moet gewysig word om dit moontlik te maak.

“Pres. Cyril Ramaphosa het by verskeie geleenthede, insluitend tydens ? besoek aan koning Goodwill Zwelithini, beklemtoon dat die Regering eiendom sonder vergoeding gaan onteien. Ramaphosa se gebruik van die woorde ‘ons mense’ om te verwys na swart mense wat voordeel uit onteiening moet trek, hou die ernstige implikasie in dat hy wit mense nie as deel van ‘ons mense’ sien nie.”

Geen gerusstelling
Kriel sê ook mnr. Gugile Nkwinti (voorheen Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en nou die Minister van Water en Sanitasie) het dié uitspraak gemaak: “There is no doubt about it, land shall be expropriated without compensation.” Daarbenewens het die Parlement op 27 Februarie met 241 stemme teen 81 gestem ten gunste van ’n mosie wat die proses begin het om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

“Vir Sisulu om nou gemoedere te probeer kalmeer deur aan te voer dat die Suid-Afrikaanse Regering volgens die Grondwet sal optree, bied geen gerusstelling nie, aangesien die ANC juis die Grondwet wil wysig.”

Mnr. Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het daarop gewys dat volgens die laaste beskikbare polisiesyfers meer as 1 700 plaasmoorde en meer as 12 245 plaasaanvalle oor ’n tydperk van 21 jaar plaasgevind het. 

“Indien ’n mens in ag neem dat daar vir drie van daardie jare geen syfers met betrekking tot plaasaanvalle bestaan nie, kom dit neer op ’n gemiddelde van 680 plaasaanvalle en 94 plaasmoorde per jaar. Dit is byna twee plaasaanvalle per dag en twee plaasmoorde per week, oor ’n tydperk van 18 jaar.”