Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het ’n debat aangevra oor die toenemende geweldsmisdaad en die regering se verantwoordelikheid om sy burgers se lewens en eiendom te beskerm.

Daar was ’n toename in al sewe kontakmisdade in Suid-Afrika die afgelope jaar. In vergelyking met die wêreld se gemiddelde moordsyfer van sewe uit 100 000 mense, teenoor Suid-Afrika se 37 uit 100 000, is geweldsmisdaad in die land duidelik buite beheer, het Groenewald gesê.

Hy sê sowat 4 000 polisiebeamptes, wat die publiek moet beskerm, het misdaadrekords en minder as 18% van alle misdaad wat aangemeld word, beland in die hof. “Dit beteken misdadigers se kans om in Suid-Afrika met misdaad weg te kom, is sowat 82%. Dit is ’n duidelike bewys van die regering se onvermoë om misdaad te bestry.” 

Onwillig

In sommige gevalle is polisiebeamptes onwillig om op te tree en om op klagtes van slagoffers te reageer. Groenewald noem die voorbeeld van ’n man van KwaZulu-Natal, mnr. Anton Pitout, wat onlangs deur plaaswerkers aangerand is, waarna polisiebeamptes geweier het om sy klag te aanvaar.

As oplossing teen misdaad moet die polisie bemagtig word om misdaad te voorkom en die strafregstelsel moet reggeruk word, sodat misdadigers vervolg en gestraf kan word.

Me. Tammy Breedt, die VF Plus se hoofwoordvoerder vir landbou en grondhervorming, het daarop gewys dat meer as 58 mense daagliks in Suid-Afrika vermoor word. Elke drie ure word ’n vrou vermoor en 114 verkragtings vind per dag plaas.