Vier minder plaasmoorde en 468 minder voorvalle van veediefstal het volgens die polisie se statistieke voorgekom.

Mnr. Bheki Cele, minister van polisie, het die amptelike misdaadstatistieke vir dié kwartaal, wat strek van 1 April tot 30 Junie, bekend gemaak. Hierdie statistieke sal voortaan kwartaalliks bekend gemaak word. Daar was ’n afname van 35,8% (vanaf 5 398 tot 3 466) in moord en ’n afname van 37,4% in kontakmisdade. Inbrake by woonhuise het met 30,5% gedaal, maar by nie-residensiële persele het dit met 9,1% toegeneem.

Cele het gesê inbrake by skole en plekke wat drank verkoop, het toegeneem. Daar was 2 692 inbrake by onderriginstellings en 1 246 by plekke waar drank verkoop word. Altesaam 1 186 verdagtes is hiervoor aangekeer.

Cele het gesê dié statistieke skets ’n baie rooskleurige prentjie van ’n vreedsame Suid-Afrika wat ’n misdaadvakansie ervaar.

Hy het benadruk dat die werklikheid hiervan is dat landsburgers aan die oproepe gehoor gegee het om tydens die inperking by die huis te bly. Die omstandighede was so dat misdaad nie soos normaal kon floreer nie. Daar was ook baie meer sigbare polisiëring en grootskaalse voldoening aan die Wet op Rampbestuur.

Landelike gebiede

In die kwartaal was daar nege moorde op plase en kleinhoewes. Dit is vier minder as die ooreenstemmende tyd die vorige jaar. Daar was geen plaasmoorde in Noordwes, die Wes-Kaap en Limpopo nie. Daar was drie in die Vrystaat, twee in Gauteng, en een elk in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, die Noord-Kaap en Mpumalanga.

Kontakmisdaad wat in boerderyomgewings plaasgevind het, maar nie spesifiek as plaasaanvalle of plaasmoorde beskou kan word nie en ook plaasmoorde insluit, is 29 moorde, 60 voorvalle van poging tot moord en 120 voorvalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die voorkoms van veediefstal het met 6% gedaal, vanaf 7 813 voorvalle in die eerste kwartaal van die 2019-’20-boekjaar tot 7 345 in die eerste kwartaal van die huidige boekjaar.

Vier provinsies het ’n styging getoon. Dit is die Wes-Kaap met 41 meer voorvalle as die vorige boekjaar, die Noord-Kaap met 56, die Oos-Kaap met 26 en KwaZulu-Natal met 9 meer.

In die Vrystaat is 195 minder voorvalle van veediefstal aangemeld, in Gauteng 20 minder, Limpopo 61 minder, Mpumalanga 202 minder en Noordwes 122 minder.