Dié statistiek het betrekking op die jaar wat geëindig het op 31 Maart 2020. Veediefstal het met 4,2% afgeneem van 29 672 tot 28 418 sake.

Altesaam 303 meer moorde het voorgekom (’n styging van 1,4%), met ’n totaal van 21 325 moorde.

Wat kontakmisdaad spesifiek op landbougrond soos plase, plotte en kleinhoewe betref, was daar 161 voorvalle van verkragting, 397 van algemene aanranding, 711 van aanranding met die doel om ernstig te beseer, 128 van poging tot moord en 166 moorde.

Om te bepaal wat die neiging van aanvalle en moorde op plase gedurende die inperking is, het die polisie die laaste kwartaal van die 2019-’20-boekjaar, wat strek van Januarie 2020 tot Maart 2020, vergelyk met die eerste kwartaal  van die 2020-’21-boekjaar, wat strek van April 2020 tot Junie 2020.

In hierdie tydperk was daar ’n verhoging van een moord. Van Januarie 2020 tot Maart 2020 was daar ses moorde, en van April 2020 tot Junie 2020 sewe moorde. Daar was in dié tydperk ’n afname in plaasaanvalle, met 80 aanvalle van Januarie tot Maart tot 48 aanvalle van April tot Junie.

Veediefstal

Cele het beklemtoon dat die ingrypings wat gedoen is om veediefstal te bekamp, gunstige resultate tot gevolg gehad het. Hy het gesê veediefstal is ’n ernstige misdaad in landelike gemeenskappe.

Vee is rykdom vir daardie mense en moet beskerm word, het Cele gesê. Slegs in die Oos-Kaap en die Wes-Kaap was daar ’n styging in veediefstal. In die Oos-Kaap het dié misdaad met 1% gestyg, van 6 736 voorvalle in die 2018-’19-boekjaar tot 6 800 voorvalle in die 2019-’20-boekjaar. In die Wes-Kaap het dit met 3,7% gestyg, van 975 tot 1 011 voorvalle in die onderskeie boekjare.