Altesaam 62 moorde het volgens die polisie in die 2017-’18-boekjaar op plase en hoewes voorgekom teenoor 74 in die vorige boekjaar.

Hoewel minder moorde op plase en kleinhoewes voorgekom het, het die algehele moordsyfer in die land gestyg. Altesaam 1 320 meer moorde het in die 2017-’18-boekjaar voorgekom toe 20 336 moorde aangeteken is. Dit is ’n toename van 6,9%. Dit is die meeste moorde wat in die afgelope tien boekjare gepleeg is.

Veediefstal het oor die afgelope drie boekjare toegeneem. Veediefstal het met 7,2% gestyg met 28 894 veediefstalsake wat aangemeld is. Die grootste styging van dié misdaad, 14%, is in die Noord-Kaap aangeteken.

Verandering moet kom

Mnr. Bheki Cele, Minister van Polisie, het gesê dit is sleg om die draer van slegte nuus te wees.

Hy voel die ergste ding sal wees as hy volgende jaar terugkom en dieselfde statistieke weer gee. “Die bal is laat val. Die belangrikste is hoe die bal opgetel en die situasie reggestel word.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het sy hoop uitgespreek dat die nuwe bestuurspan misdaad doeltreffend sal beveg. Dit was die eerste keer sedert 2007 dat die plaasmoordsyfers sonder enige bekgeveg of bakleiery weergegee is. Hy het Cele daarvoor bedank.