Dié statistieke is van die derde kwartaal van die 2020-’21-boekjaar.

Die statistieke wat gedurende dié drie maande aangeteken is, dui aan watter misdade gepleeg is gedurende die vlak 1- en die aangepaste vlak 3-inperkingstydperk weens die Covid-19-pandemie.

Cele het gesê dat die statistieke nie ’n mooi prentjie skets nie en dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) dringend sy tekortkominge sal moet opskerp. In die tydperk onder bespreking is ’n 6,6%-toename in die algehele moordsyfer aangeteken.

Dit beteken 389 meer mense is vermoor teenoor die ooreenstemmende tydperk in die vorige boekjaar. Mpumalanga het die hoogste toename, 13,7%, getoon en in Limpopo, Noordwes en die Noord-Kaap was daar ’n afname in moorde.

Altesaam 193 van die moorde was weens huishoudelike geweld.

Die drie plekke waar die meeste moorde plaasgevind het, was openbare plekke soos in die straat, oop velde, parkeerterreine en verlate geboue; by die huis van die oortreder; en drankafsetpunte. Oor die algemeen het kontakmisdade teen ’n persoon met 1,4% gedaal.

Plaasaanvalle en moorde

Altesaam 19 mense is vermoor in 18 voorvalle op plase en kleinhoewes. Dit is 13 moorde minder as in die ooreenstemmende tydperk in die vorige boekjaar, het genl.maj. Norman Sekhukhune, hoof van navorsing en statistieke by die SAPD, gesê. Sewe van die moorde was in die Vrystaat, vier in die Oos-Kaap, drie in Gauteng, twee elk in KwaZulu-Natal en Limpopo, en een in Mpumalanga.

Daar was altesaam 88 voorvalle van misdaad op plase en kleinhoewes, wat plaasaanvalle en -moorde insluit. Die res van hierdie voorvalle sluit in 52 voorvalle van roof, 16 pogings tot moord, 2 verkragtings, 10 aanrandings met die doel om ernstig te beseer, 9 voorvalle van diefstal uit ’n motor en ’n voorval van kwaadwillige saakbeskadiging.

Daar was altesaam 26 aanvalle op plaaswerkers of -bewoners deur die boer of plaasbestuurder, waarvan 3 moorde, 1 poging tot moord, 4 voorvalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer, 17 algemene aanranding en ’n seksuele aanranding.

Rakende veediefstal het Sekhukhune gesê dat dit met 583 of 6,9% afgeneem het. Daar was altesaam 7 854 voorvalle vir die tydperk.

Die diere wat gesteel is, is 33 697 skape, 17 456 beeste, 16 015 bokke, 6 410 hoenders, 586 varke, 311 donkies, 274 perde, 143 stuks wild en 55 volstruise. KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Vrystaat is die drie provinsies waar die meeste veediefstal voorkom.

Oor die algemeen het alle eiendomverwante misdade met 15,8% afgeneem, het Sekhukhune gesê.