“Die vlaag plaasaanvalle en -moorde, en veral die onlangs moorde in die Vaalharts-omgewing en die hoë vlakke van eiendomsverwante misdaad, het daartoe gelei dat gemoedere byna by breekpunt is. Dit raak al hoe moeiliker om te bestuur, en daar moet hiervan kennis geneem word. Hierdie en ander gevalle van geweld in die landbou wat die boerderygemeenskap, asook mede-Suid-Afrikaners, daagliks raak, word ten sterkste veroordeel.”

Volgens die statistieke was daar 49 plaasmoorde in die 2019-’20-boekjaar, terwyl die getal plaasaanvalle van 41 tot 46 toegeneem het. “Dit is 49 moorde te veel. Dit het Suid-Afrika ontneem van strategiese kundigheid op boerderygebied en armer gelaat aan kundigheid wat nou nodig is om ’n bydrae tot ekonomiese groei en voedselsekerheid te lewer.”

Die algemene moordsyfer was in die 2019-’20-boekjaar 1,4 % hoër as die vorige jaar. Dit beteken dat moorde in Suid-Afrika nou reeds vir agt jaar bly toeneem. Ander opvallende statistiek wat bekend gemaak is, is dat sakerooftogte en motorkapings met onderskeidelik 3,3% en 13,3% toegeneem het. Huisrooftogte het met 5,8 % afgeneem teenoor die vorige jaar, maar is 26% meer as in 2011-’12. “Dit is veral hierdie tipe misdaad waaraan die boerderygemeenskap daagliks blootgestel is, en wat ’n inbreuk op mense se lewensgehalte maak.”

Esterhuyse sê die werk van die Agri Securitas-Trustfonds oor die jare om boeregemeenskappe te beveilig, is prysenswaardig en lewer uitstekende resultate. “Die afgelope tyd is finansiële bydraes aan verskeie boereverenigings gemaak waardeur boere en plaaswerkers se veiligheid verbeter kan word. In ’n wetsgehoorsame samelewing is hierdie tipe veiligheidsondersteuning nie nodig nie.”

Agri SA het reeds ’n versoek aan Cele gerig om die veiligheid van die landbougemeenskap te bespreek in ’n poging om oplossings vir die geweldskultuur in boerderygebiede te vind.

Meer vrae as antwoorde

Intussen is die DA ook van plan om Cele te nader aangesien die jongste misdaadstatistieke volgens die party meer vrae as antwoorde bied.

Mnr. Andrew Whitfield, DA-LP, sê die statistieke dui weer eens daarop dat die polisie die stryd teen die meeste groot misdade verloor. “Die moordsyfer is, weer, die hoogste wat dit die afgelope tien jaar was met gemiddeld 58,4 moorde per dag in Suid-Afrika. Seksuele misdade het met 1,7% toegeneem en seksuele aanranding met 4,2%. Daar word daagliks gemiddeld 115,8 mense in Suid-Afrika verkrag. Kontakmisdade het ook met 0,7% toegeneem.”

Hy sê hoewel die DA dit verwelkom dat plaasaanvalle by die statistieke ingesluit is, doen die party ’n beroep op die polisie om die inwerkingstelling van die landelike veiligheidstrategie te bespoedig.

Die statistieke rondom seksuele misdade is volgens die DA onduidelik. “Die totale getal verkragtings het met 1,7% tot 42 489 gevalle toegeneem, maar die verkragting van vroue en kinders het met 15,8% tot 25 801 afgeneem. Beteken dit dat die verkragting van mans 40% van die syfer verteenwoordig?

“Selfs meer kommerwekkend is dat hierdie syfers tydens die aanbieding as ‘onvolledige, voorlopige’ syfers aangebied is. Dit lei tot ernstige vrae oor ons stryd teen seksuele misdade soos verkragting.

“Die jongste statisitieke is ’n aanklag teen die polisie en spesifiek die minister van polisie, wat meer besorg oor drank en sigarette as wrede misdadigers is. Dit is duidelik dat die ANC daarin misluk om ons gemeenskappe veilig te hou.”