Mlengana se bedanking het gekom in ’n tyd dat mnr. Mdu Shabane, wat die direkteur-generaal van die ou departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming was, glo die gunsteling was om die pos as DG te kry. Die departement het sedert die samesmelting van die departemente van landbou en van landelike ontwikkeling en grondhervorming twee DG’s gehad en ’n enkele DG sou reeds aan die begin van die nuwe boekjaar aangekondig word.

Shabane is sedert Mlengana se bedanking verlede maand as waarnemende DG aangestel. Teen druktyd was dit nog nie bekend of pres. Cyril Ramaphosa Mlengana se bedanking aanvaar het nie.

Mlengana sê hy het bedank omdat dit “baie moeilik is wanneer bestuur, rekenpligbaarheid en toepassing slegs retoriek is in die gesig van volslae armoede”. ’n Sterk beklemtoning van inwaartse fokus ten koste van dienste of dienslewering aan kliënte was genoeg om sy verdraagsaamheid te breek.

Mike moet inligting gee

Lede van die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling wou op ’n virtuele komiteevergadering by me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, inligting kry oor die beweringe wat Mlengana maak.

Sy het gesê die kwessies wat Mlengana rakende probleme by die departement in die media geopper het, sal ondersoek word. “Ons het die voormalige DG gekontak om ons te vertel wat die detail van die kwessies is sodat ons dit kan opvolg.”

Sy het gesê van die kwessies is verlede jaar in ’n verslag van die Openbare Dienskommissie vervat. “Ongelukkig kon daar nie aandag daaraan gegee word nie, aangesien hy, wat die DG was, daardie verslag vir hersiening geneem het.” As hy die kwessies opper, sal ondersoek ingestel en agter die kap van die byl gekom word.

Die Openbare Dienskommissie het verlede jaar bevind dat Mlengana oor die algemeen misluk het en ’n tekort aan leierskap het om die departement te lei. Die kommissie het gesê as DG is hy verantwoordelik om gesonde arbeidspraktyke te bevorder, maar voorkomende skorsings word nie volgens voorskrifte gedoen nie, griewe geniet nie aandag nie, onnodige koste word aangegaan weens dispute en daar is teenstrydigheid, konflik van belange en persepsies van bevooroordeling as dit kom by die hantering van tugsake. Die kommissie wys ook onder meer uit dat sedert Mlengana se aanstelling daar ’n afname was in die bereiking van prestasieteikens.