Die toekennings word aangebied deur GenderCC-SA, Indalo Inclusive, die Innovation Hub-Climate Innovation Centre South Africa en die Verenigde Nasies se omgewingsprogram met die samewerking van die regering van Vlaandere.

Dié vennote is almal betrokke by die ontwikkeling van entrepreneursvaardighede en daarom bied hierdie toekennings hulle die geleentheid om mekaar te versterk, sê me. Bertha Chiroro, direkteur van GenderCC-SA, ’n organisasie sonder winsoogmerk wat onder meer 6 000 vroueboere in Noordwes en by Vhembe in Limpopo bystaan.

“Ons doel is om entrepreneurskap te bevorder wat die oorgang na ’n groen ekonomie aanmoedig en geslagsgelykheid ondersteun. Deelnemers moet bewys dat hul besighede gevoelig teenoor die omgewing en inklusief is.”

Me. Vivian Phetla, programkoördineerder by Indalo Inclusive, sê daar word nog altyd van vroue verwag om meer huishoudelike rolle as mans te vervul. “Pleks daarvan om te aanvaar dat vroue se besighede sukkel, is die doel van die toekennings om vroue te identifiseer wat oplossings kan vind.”

By die toekennings sal vier wenners ses maande se besigheidsontwikkeling-ondersteuning en mentorskap ontvang om hul ondernemings te laat groei, asook ’n toelae van R45 000. Ondernemings wat gereed en bereid is om hul sake-aktiwiteite in hul gemeenskappe uit te brei, sal verdere bystand ontvang.

Mnr. Rest Kanju, hoof van nasionale operasies by Indalo Inclusive, sê pogings om die maatskaplik-ekonomiese impak van klimaatsverandering reg te stel kan nie voltooi word tot voldoende aandag gegee word aan die behoeftes van vroue en kinders nie aangesien hulle die meeste deur klimaatsverandering geraak word en ook die weerloosste groepe in die samelewing is.

“Hulle identifiseer self hierdie behoeftes. Ons rol is om hul entrepreneuriese ondernemings te ondersteun.”

SiAWECCA bied ook ’n geleentheid om selfvertroue te bou en rolmodelle te skep wat ander vroue kan inspireer. Skryf aanlyn in by https://indaloelearning.org.za/. Inskrywings sluit op 30 September.