Dit kan dalk ’n verenigende mag wees waarmee boere die uitdagings van die tyd tegemoet kan gaan om te oorleef en te floreer, het prof. Rachel Jafta, voorsitter van Media24, op Agri SA se jaarkongres by Muldersdrift, wes van Johannesburg, gesê.

Sy het gesê Media24 is baie beïndruk met hoe Landbouweekblad se lesers die digitale wêreld lankal reeds omhels het.

Volgens Jafta is die kenmerke van die nuwe wêreld onder meer vinnige verandering, ingewikkeldheid en dubbelsinnigheid, waar laasgenoemde behels dat mense sake op verskillende maniere sien.

Die tempo van verandering bring onsekerhede en beteken dat dinge nie meer soos in die laaste 20 of 30 jaar gedoen kan word nie.

’n Mens moet al jou vermoëns, veral jou moed, inspan om te floreer, het sy gesê.

Ander voorbeelde van vennootskappe

Vennootskappe, wat die tema van vanjaar se kongres is, is een van die moontlike oplossings.

As voorbeeld het sy vertel van spanning in verskillende lande tussen taxidienste soortgelyk aan dié tussen Uber en tradisionele taxidienste in Suid-Afrika.

In China het eersgenoemde die angel uit die spanning gehaal deur sy digitale platform vir gebruik deur die tradisionele dienste aan te bied sodat verbruikers ’n keuse sou kon maak op grond van gehalte.

“Dit is moontlik om ’n middeweg (vir probleme) te vind, maar dit verg geduld, tyd en buitengewone oorredingsvaardighede. Ek het geen twyfel dat Suid-Afrikaners dit kan regkry nie.”

Jafta het verder gesê groot gewag word gemaak van die vermoë van kunsmatige intelligensie om die wêreldekonomie te laat groei. In ’n nuwe boek word nou egter gesê as vroue in die ekonomie geïntegreer word, kan dit die ekonomie selfs sterker laat groei.