Die droogte, wat Namibië ook teister, het meer op veilings en in slagplase beteken omdat boere weens ’n gebrek aan goeie weiding van onproduktiewe diere ontslae moes raak. Anders sou hulle die finansiële implikasies van die voer van al hul diere moes dra.

Nog ’n faktor wat die hoë bemarking van beeste gesteun het, was die vrees vir die uitbreking van bek-en-klouseer. Pryse was dus onder druk en dié neiging kan op die kort termyn voortduur. Daar was ’n ooraanbod van diere op veilings, en slagplase werk teen hul volle vermoë.

Daar was ook ’n aansienlike toename in uitvoer na Suid-Afrika waar ook meer diere weens die droogte geslag is. Sommige Suid-Afrikaanse voerkrale en slagplase verkies beeste uit Namibië omdat hul le as meer gehard beskou word en dus meer bestand is teen siektes.

Uitvoer na Angola het aansienlik gedaal weens die groot daling in die prys van ru-olie. Die landboudepartement het aangedui dat sekere regulatoriese prosedures ten opsigte van bek-en-klouseer noord van die veterinêre kordongebied hersien is. Die verskuiwing van vee binne die noordelike kommunale gebied sal nou met die toestemming van die veeartsenykundige diens en onder toesig van veeartse moontlik wees.

  • Deur Julie Hayward en Karabo Takadi, ekonome by Absa AgriBesigheid