Mnr. Moeletsi Mbeki, politieke ontleder en ekonoom, was een van die sprekers op die FW de Klerk-stigting se jaarlikse kongres.

Hy het gesê een van die groot veranderinge wat die land ná die aanvaarding van die demokratiese bestel ondervind het, was ’n skeiding van die sake- en die politieke elite. Voor 1994 was hierdie twee verenig. Die Nasionale Party was een van eiendomsbesitters van veral grond. Die party as eienaar van eiendom het ’n gemeenskaplike belang met die eienaars van myne en banke gehad.

Ná 1994 het hierdie elite verander. Volgens hom het die nuwe politieke elite nie eiendom nie en dit is een van die redes waarom hulle die staat sien as die skatkis waarvan hulle moet leef.

Hy het gesê gedurende die vorige regime het die parlement sowat vyf maande per maand gesit, maar dat dit vandag permanent sit en die politici word hope geld betaal. ’n Agterbanker word meer as R1 miljoen per jaar betaal.

“Jy hoef niks te sê nie, inteendeel kan jy net daar sit en slaap en R1 miljoen verdien. Dit het nie onder die Nasionale Party gebeur nie, want politici moes hul eie eiendom winsgewend maak en die parlement moes dit moontlik maak. Die parlement was nie die bron van hul inkomste nie.”

Hy sê politiek is vandag ’n bron van inkomste vir die politieke elite.

Bedreiging

Hy het gesê Suid-Afrika het vandag ’n sake-elite met baie sterk punte, maar sy fundamentele swakheid is dat hy nie beheer oor die politieke elite het nie, wat hom kwesbaar maak en dit het ’n impak op beleggings.

Weens die tekort aan sekerheid van eiendomsbesit vir die sake-elite, is daar groot kwesbaarheid vir die eienaars van kapitaal. “Hulle het geen sekuriteit vir hul bates nie.”

Die debat rondom onteiening sonder vergoeding is ’n bedreiging vir bates. “Die sake-elite in die land is baie kwesbaar tot die beslaglegging van bates. Die onteiening van grond sonder vergoeding is die beslaglegging van bates.”

Hy het gesê al word hul eiendom nie ontneem nie, word hul winste via die land se belastingstelsel van hulle ontneem. Die gevolge van hierdie bedreigings is dat daar te min in die ekonomie belê word. Hy meen om die land vorentoe te neem, is onder meer verkiesingshervormings nodig met ’n vermenging van kiesafdeling- en proporsionele verteenwoordigers op nasionale en provinsiale vlak. Die gesondheid-, vervoer-, elektrisiteit- en onderrigstelsel moet herontwerp word en die ekonomie moet herstruktureer word dat dit meer beleggingsgedrewe as verbruikersgedrewe is.

Dr. Martin Schäfer, Duitse ambassadeur in Suid-Afrika, het gesê swart ekonomiese bemagtiging, wat eintlik maar ’n ooreenkoms is tussen die sakegemeenskap en die politieke elite, verhinder mededinging. Hy het ’n pleidooi gelewer dat die regering die ekonomie moet oopmaak vir alle Suid-Afrikaners en buitelanders wat sake wil bedryf.