Geldenhuys sê mnr. Bert Steenberg en sy vrou, Marietjie, was in die proses om die plaas permanent te verlaat. Sy vrou het reeds na Witbank verhuis. Steenberg het sommige aande nog alleen op die plaas gaan slaap.

Volgens Geldenhuys het Steenberg se familie bekommerd geraak omdat hy nie sy foon geantwoord het nie. Sy bure het gaan ondersoek instel en het hom gister dood en vasgebind aan ’n voertuig op sy plaas gevind. Hy is vermoeilik verlede week tussen Donderdag en Sondag vermoor.

Brig. Leonard Hlati, polisiewoordvoerder, het aan Netwerk24 gesê sy huis was omgekeer, maar daar was geen tekens van ’n inbraak nie. Sy bakkie en twee selfone word vermis. Volgens Hlathi blyk dit of Steenberg verwurg is met sy hemp en ’n stuk van die tou waarmee hy vasgebind is. Hy is ook aangerand.

Verdagtes

Die verdagtes is nog op vrye voete.

Geldenhuys sê Steenberg was nie deel van die plaaswag nie. As hy was, sou ’n radiotoets waarskynlik vroeër kon aandui iets is nie pluis nie. “Dit bevestig weer die belangrikheid daarvan vir mense op plase en kleinhoewes om betrokke te raak by ’n plaaswag of veiligheidsinisiatief, want dan sou ’n mens vroeër kon reageer.”

Volgens Geldenhuys word probeer om die gesteelde selfone te gebruik om die verdagtes op te spoor. Dit is egter ’n moeilike proses.

Hy sê ’n voertuig soortgelyk aan die gesteelde bakkie is Sondag in Carolina gesien. Die voertuig met vier insittendes het verdag voorgekom en is afgetrek. Aangesien Steenberg se bakkie in daardie stadium nog nie as gesteel op die polisie se stelsel geregistreer is nie, is die voertuig en insittendes toegelaat om verder te reis.

“Indien vroeër alarm gemaak is, kon ons vroeër geweet het of dit die gesteelde voertuig was.”

Hy sê dit is sleg dat hierdie plaasmoord weer met erge geweld en marteling gepaardgegaan het. “Dit is vir ons onaanvaarbaar. Die polisie sal meer moet doen om veiligheid in landelike gebiede te verseker. Dit is hulle werk en hulle misluk duidelik daarmee.”

Die polisie versoek dat enigiemand met nuttige inligting insp.sers. Aubrey Khoza by 082 604 1339 of die polisie se Crime Stop-nommer by 086 001 0111 kontak.