Die twee beskuldigdes, Dani en Solly Matthews, het die 76-jarige mnr. Chrisjan van Niekerk in Julie 2020 in sy Doringkloof-kontantwinkel op sy plaas, Nooitgedacht, aangeval met die doel om die winkel te beroof. Hulle het die bykans blinde Van Niekerk met ’n byl vermoor. Solly was 22 en Dani 16 ten tyde van die aanval.

Volgens Agri Oos-Kaap is die twee beskuldigdes in April skuldig bevind aan die moord op Van Niekerk. Hulle is gister in die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) deur regter Thami Beshe gevonnis.

Dani Matthews is tot 16 jaar tronkstraf gevonnis vir moord en 10 jaar vir roof met verswarende omstandighede. Die helfte van die vonnis vir die roof sal saam met die moordvonnis uitgedien word. Dani Matthews sal effektief 21 jaar agter tralies deurbring. Hy was ’n minderjarige tydens die moord.

Solly Matthews is 22 jaar tronkstraf opgelê vir moord en 12 jaar vir roof met verswarende omstandighede. Die helfte van die vonnis vir die roof sal saam met die moordvonnis uitgedien word. Hy sal effektief 28 jaar agter tralies wees.

“Agri Oos-Kaap veroordeel die afgryslike aanval en moord op ’n lid van die plattelandse gemeenskap en die algehele tekort aan veiligheid vir mense wat leef en werk op die Suid-Afrikaanse platteland,” sê mnr. Jason Kumm, bestuurder vir landelike veiligheid en kommunikasie by Agri Oos-Kaap.

Van Niekerk se lyk is verlede jaar in sy winkel deur ’n kliënt gevind waarna die plaaslike polisie en lede wat reageer het, ’n soektog na die moordenaars begin het.

“Vinnige optrede en ’n goed koördineerder ondersoek het gelei tot die spoedige inhegtenisneming van Dani en Solly Matthews, wat albei erken het dat hulle die ernstige misdade gepleeg het.”

Die twee is 15 km van waar Van Niekerk se lyk gekry is, aangekeer.

Agri Oos-Kaap bedank ook die gemeenskapslede wat vinnig en doeltreffend gereageer het om te verseker dat albei beskuldigdes vinnig aangekeer is. Sodoende kon die verdagtes vinnig aan die polisie oorhandig word, wat daartoe gelei het dat die nasionale vervolgingsgesag kon voortgaan met die hofverrigtinge en kon verseker dat geregtigheid plaasvind en ’n gepaste vonnis gegee word.